Sy het oop wonde aan haar kop gehad en bloedplasse het oral in die kamer en op haar bed gelê. Daar was selfs dik bloedstrepe teen die mure.
Die reuk van droë bloed het Maandag steeds in die pienk huisie op die heuwel gehang. Paulina sê sy is te bang om alleen terug te gaan na die huis waar sy en haar suster al vir jare woon.
"Ek kry nie die prentjie uit my kop nie. My suster is gemartel en vermoor vir 'n klein bietjie geld wat hulle nie eens gekry het nie," vertel sy steeds geskok.
Volgens haar het sy verlede Vrydagaand by familie wat naby woon gaan oorslaap en Sarah sou die volgende dag gekom het soos sy oudergewoonte gedoen het.
"Toe sy teen vyfuur nog nie by ons was nie het ek besluit om huis toe te gaan en te gaan kyk waar sy was. Die kombuisdeur was oop en ek het ingestap net om my suster se verwoeste liggaam in haar kamertjie aan te tref," vertel sy.
Paulina was Maandag vir die eerste keer na die moord op haar suster saam met die Oudtshoorn Courant in die huis om Sarah se identiteitsdokument te gaan soek. Sy het toe vir die eerste keer regtig kans gekry om deur alles te gaan en te kyk wat weg is.
Terwyl Paulina Maandag na haar suster se ID gesoek het, het sy Sarah se handsak met haar pensioengeld, sowel as 'n skêr en 'n mes in die mikrogolfoond gekry. 'n Gebreekte, bloedbedekte porseleinbeeldjie het ook op 'n kassie gelê. Verder was die huis van hoek tot kant omgekeer soos Sarah se moordenaars waarskynlik die huis deursoek het. Sover Paulina kon vasstel is niks waardevols uit die huis weg nie, maar word van hulle kos en die huis se sleutels vermis.
Volgens sers. Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het die polisie Migel Adams (37) en Tesmique
Malgas (18) op klagtes van moord en verkragting in hegtenis geneem. Die verdagtes het Dinsdag in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn en hul saak is tot 19 Junie vir 'n borgtogaansoek uitgestel.

Sarah Prins is Vrydagaand op die plaas Welbedacht in haar huis vermoor. Foto: Liezl van Niekerk

Verskeie bebloede kledingstukke en artikels het Maandag nog in die huis rondgelê
ARTIKEL: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'