Update
OUDTSHOORN NUUS - Die twee verdagtes wat Saterdagoggend betrap is toe hulle gesteelde goedere uit die erf van die Oasis Shanti Backpackers in Randstraat dra, het Maandag in die hof verskyn.
Emile Jansen en Estivan Ainslie Campher is Saterdagoggend omstreeks 08:00 deur polisielede op patrollie voorgekeer terwyl hulle sakke met gesteelde eiendom van die perseel wegdra.
'n Sekerheidskamera oorkant die pad wys hoe twee mans net na 08:00 sakke oor die heining gooi. Terwyl hulle in die erf besig is, hou 'n verbyganger op 'n fiets stil en begin deur die sakke te grou totdat hy deur die twee in die erf verwilder word. Hulle kan gesien word waar hulle met die sakke in die rigting van Kerkstraat stap. Hulle is kort daarna deur die polisie voorgekeer.
Nog twee mans het die vorige aand ligte en sekerheidskameras uit die agtererf van die eiendom gesteel. Dit is nie seker of dit dieselfde twee is wat Saterdagoggend aangekeer is nie.
Volgens kapt. Louis Visser, kommunikasiebeampte van die Oudtshoorn-polisie, was daar die afgelope week verskeie inbrake. Drie daarvan was by besighede in die middedorp. 'n Haarsalon naby Checkers het die nag van 25 en 26 Julie onder inbrekers deurgeloop en 'n vertoonvenster van Fashion World is om 04:30 op 24 Julie stukkend geslaan en klere is gesteel.
Die vorige nag van 22 en 23 Julie is daar by Street Fever ingebreek. Twee verdagtes, Desmond Saptou en Jacobus Nuys is in verband met daardie inbraak in hegtenis geneem en het ook reeds in die hof verskyn.
Dit is duidelik dat inwoners en besigheidseienaars toenemend sal moet saamspan om verdagtes in hulle omgewing te identifiseer en aan te meld.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoor, Klein Karoo nuus'