Christopher Timmy, hoof uitvoerende beampte van Calitzdorp Munisipaliteit, en August Galant, albei 45 en van Zoar Nuwe Uitbreiding, het die hoofpad in Zoar vol klippe gepak tydens betoging om hoër lone vir plaaswerkers. Die twee mans is op 14 Januarie in hegtenis geneem vir die oortreding van padverkeersregulasies.
"Hulle het Zoar se hoofstraat, wat deur inwoners en landbouers van Amalienstein gebruik word, versper," het ao. Jan Cederas, kommunikasiebeampte van Ladismith-polisie gesê.
Volgens Cederas het sowat 60 mense op daardie dag aan die betogings deelgeneem en die twee mans is as voorbokke geïdentifiseer. Hulle is op 16 Mei vanjaar deur landdros Marius Nel op Ladismith gevonnis. Beide is `n boete van R2000 opgelê, opgeskort vir vyf jaar, en gevangenisstraf van vyf maande, ook opgeskort vir vyf jaar.
"Dit is verblydend dat die reg nog in beheer is om te verseker dat mense wat die reg in eie hande neem nie daarmee wegkom nie," het Piet Lodder, hoof uitvoerende beampte van Agri Eeden, wat Agri Klein Karoo insluit, gesê.
'Ons bring jou die nuutste Klein-Karoo nuus'