Hy het Sondag 'n draai in Oudtshoorn gemaak om een van die begunstigdes van sy groot trap te ontmoet. Heini van Straaten, 'n kankerlyer wat al diep in die harte van baie mense gekruip het, was baie opgewonde om die oom te ontmoet wat vir kinders soos hy en verskeie ander mense beplan om 84 dae op 'n fiets se saal deur te bring.
"As mens vir iemand iets doen dan gee dit vreugde vir die een wat doen en dit gee vreugde vir die een wat ontvang en daarom noem ek my reis en die Facebook-blad Trap vir Vreugde," verduidelik Jakkie.
Hy vertel dat hy reeds in 2012 'n lang fietsrit aangepak het en die afstand tussen Pretoria en Kaapstad in onder sewentig uur in die saal afgelê het. "Dit het natuurlik 'n klomp dae gevat, maar ek was fisies op die saal vir omtrent 68 uur."
Met daardie rit agter die rug het die fikse Jakkie besluit die tyd is nou ryp vir 'n ernstige poging en hy het besluit om reg rondom Suid-Afrika te ry. Sy vrou, Marie, vertel dat hy as deel van sy voorbereiding met 40 kg bakstene op die fiets gery het.
Hy het op 31 Mei by die Kasteel in Kaapstad weggespring en hoop om voor die einde van Augustus, met 6 400 km agter die rug weer daar te eindig. Wat die man se durf nog meer besonders maak is dat hy nooit 'n fietsryer was nie. Sy seun het kort voor sy 2012 rit vir hom 'n nuwe fiets gegee en toe het hy eers ernstig begin oefen. Hy dra al sy bagasie in sakke op die fiets saam.
Met sy besoek aan Oudtshoorn verlede naweek het hy by sy seun in Glentana oorgeslaap en hy het Maandagoggend van daar weggespring op sy skof Plettenbergbaai toe. Sy seun het hom vergesel. Terwyl hy nie omgee dat mense saam met hom ry nie sê Jakkie dat hy verkies om alleen te ry, nie omdat hy snaaks wil wees nie, maar omdat hy bang is hy ry te stadig vir party mense. Sy vrou skud haar kop en herinner hom daaraan dat hy naby Bredasdorp meer as 90 km per uur gery het toe 'n sterk wind hom geskep het.
Jakkie se lang trap is ten bate van twee organisasies; Ribbons4Roses vir kinders met kanker, outisme en gestremdhede en die Instituut vir Blindes vir volwasse gesiggestremde persone. Ampie Fourie van Ribbons4Roses noem dat sy organisasie se deel van die geld spesifiek vir Heini en nog 'n vegtertjie in Ellisras ingesamel word.
Lesers kan gerus Jakkie se reis op Facebook - Trap vir Vreugde volg. Hy was al 'n gas by verskeie radiostasies asook op Kwêla.
LEES 'N VORIGE NUUSFLITS
Jakkie van der Colff het Maandag op George 'n ruskansie gevat. By hom is sy seun Marius wat die skof tussen Glentana en Knysna saam met Jakkie afgelê het. Foto: Alida de Beer
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'