Die liggaam van Monique Gagiano is Maandagmiddag deur 'n pa en sy negejarige seun in die veld bokant Condorstraat ontdek waar dit in die mik van 'n boom aan 'n tou gehang het. Die man het aan die Oudtshoorn Courant gesê dat hy en sy seun dikwels daar in die veld gaan stap en teen ongeveer 15:30 op die liggaam afgekom het. "Dit is 'n groot skok om so iets te sien, veral vir ons seun. Gelukkig gee die skool vir hom berading."
Hy het die polisie in kennis gestel en sê dat hulle binne minute op die toneel was.
Volgens Annemarie Nunnerley by wie Monique glo die laaste vier maande gewoon het, het die oorledene deur 'n baie moeilike tyd gegaan en aan erge depressie gely. Nunnerley, wat etlike maande gelede met kanker gediagnoseer is en meestal bedlêend is, het gesê dat sy aangebied het dat Monique gratis by haar kon inwoon terwyl sy haar voete vind.
"Sy het my Saterdagoggend gegroet, lank vasgehou en vreeslik gehuil. Sy het gesê sy gaan na haar ma toe. Ek het haar nie weer gesien nie."
Inwoners wat naby die veld woon waar die liggaam gevind is, het Maandagmiddag by die Oudtshoorn Courant navraag gedoen oor die polisieteenwoordigheid in die klofie wat 'n paar honderd meter van die huise geleë is.
Polisiewoordvoerder sers. Gretchen Michaels het bevestig dat die liggaam gevind is. Alhoewel die aanvanklike polisieverklaring nie melding gemaak het van 'n brief wat gevind is nie, is daar in 'n opvolgverklaring gesê dat 'n brief wel later ontdek is. Michaels het bevestig dat 'n nadoodse ondersoek gedoen word en dat geen misdaad vermoed word nie.
'n Vriendin van Monique, Anneline Smith het gesê: "Ons is baie hartseer oor Monique. Sy was ‘n pragtige, spontane, gemaklike mens. Ek sal ons kuiers nooit vergeet nie. Sy was ook soos ek ‘n diereliefhebber en ons het dieselfde humorsin gedeel. Ons het nie besef dat sy op so ‘n donker plek was nie."
'n Pa en seun wat in die veld gaan stap het, het die liggaam onder 'n boom in die klofie gevind. Foto: Hannes Visser.
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn | Klein-Karoo nuus'