Die groep, onder leiding van pastoor Roy Reddy, het die afgelope week hul negende agtereenvolgende besoek aan die dorp gebring om uitreik- en sendingwerk tydens die universiteitsvakansie te doen. Die studente is veral betrokke in omliggende gemeenskappe soos Volmoed en vertel dat talle van die skoolkinders hul name onthou.
'n Sielkundestudent Geldré Potgieter, aan die Universiteit van Stellenbosch en oudleerder van Langenhoven Gimnasium, was ook vanjaar vir die eerste keer deel van die groep.
"Ek het 'n behoefte gehad om my geloof uit te leef," het Potgieter haar betrokkenheid by die uitreikgroep verduidelik. "Ons God is 'n God van liefde en daardie liefde moet met ander gedeel word."
Die groep het besoek gebring aan verskeie skole en gemeenskappe en veral op kinders gefokus. 'n Poppekas, toneel en sang is deel van die program wat aangebied word.
Louis Robbertze, wat vanjaar vir die derde keer deel van die groep is, het ook vertel dat sy betrokkenheid by die uitreik-aksies sy geloof versterk. "Ek was nooit 'n mens wat by sulke dinge betrokke geraak het nie. Die Bybel maan ons egter om ons geloof aktief uit te leef. Dit het my op soveel maniere versterk."
Die groep se leier, Erik Loots, het ook sy hoop uitgespreek dat die werk wat hulle doen van blywende waarde is.
"Sommige van ons kom terug vir 'n tweede of 'n derde keer en mens kry werklik die idee dat die kinders jou onthou, en die boodskap kan onthou wat ons die vorige jaar gebring het. Ons maak tuin met die kinders en leer hulle ook om só vir hulself te sorg en verantwoordelikheid te aanvaar vir iets."
Die studente is Louis Robbertze, Leani van der Walt, Mariëtte Reitsma, Janet Vermaak, Jana Botha, Reinhart Buenk, Tiaan Coetzee, Geldré Potgieter, Danélle Truter, Erik Loots en Jaap Venter.
Klik hier vir 'n verwante nuusflits.
Geldré Potgieter in een van die groep se toneelopvoerings.
Die groep studente wat die afgelope week 'n uitreikprogram in omliggende gemeenskappe aangebied het.
Kinders sing lustig saam tydens 'n besoek aan een van die plaaslike skole.
ARTIKEL EN FOTO'S: JACQUES SWART, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'