Rodley Kock (29) het die dag saam met vriende en familie by die waterval deurgebring. Die waterval en swemgate is uiters gewild en was Nuwejaarsdag gepak met mense. Kock het teen die kranse uitgeklim tot naby die bo-punt van die waterval wat bykans 60 m hoog is. Hy het vanwaar hy op die rotse gestaan het aangedui dat hy in die watergat gaan spring.
Op selfoonvideos wat die Oudtshoorn Courant onder oë gehad het kan duidelik gehoor word hoe van die mense onder die waterval sê dat hy dit nie moet doen nie en dat hy hom gaan doodval. Een persoon sê onder andere, "Ek loop nou, hy gaan dood."
Ten aanskoue van die skare mense en terwyl videos met selfone geneem is het Kock van die rotse afgespring. Op die videomateriaal kan gesien word hoe 'n deel van sy lyf die gladde rotswand 'n ent bokant die watergat tref waarna sy lyf dan die water tref en verdwyn.
Royston Coetzee (32) wat sekondes na Kock se sprong in die water geduik het om hom te help vertel: "Ek het my rug gedraai en gesê ek gaan loop toe ek sien die man wil so hoog afspring. Hy het gespring en met die skare se gegil het ek omgedraai en gesien sy voete raak 'n rots ongeveer 20 m vanaf die water. Ek het gesien hy is van balans af. Ek het onmiddellik ingespring en hom onder die water gekry. Sy liggaam was reeds pap. Ek moes weer uitkom vir asemhaal. Na my vierde poging moes ek alles laat vaar omdat hy swaarder geword het en die rotse te glad was om hom na bo te bring."
Met die aankoms van nooddiens-tewerkers op die toneel kon hulle die oorledene se liggaam onder in die watergat wat ongeveer 9 m diep is sien, maar polisieduikers van Mosselbaai is ingeroep om die liggaam uit te haal.
Die voorval het ongeveer om 15:00 plaasgevind en die liggaam is omstreeks 18:30 verwyder. Dit blyk dat die oorsaak van dood verdrinking was.

Die foto, wat deel is van 'n selfoonvideo, wys waar Kock aan die bo-punt van die waterval spring. Die tweede foto is geneem oomblikke voordat sy voete die rotswand tref en hy in die water geslinger word.
ARTIKEL: PATRICK JACKSON
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn | Klein-Karoo nuus'