Maar soveel te meer die opwinding die afgelope week toe dié spanne se eweknie in vliegsport, die Suid-Afrikaanse kunsvliegspan, hul verstommende talente op die dorp kom wys het. En na dese sal daar met ontsag gepraat word van die groep manne met nie `n skeut vrees in hul lywe nie.
Lede van die Suid-Afrikaanse span, saam met van die wêreld se voorste vlieëniers het die Oudtshoorn-vliegveld as basis gebruik vir hul voorbereiding aan die wêreld kunsvliegkampioenskappe, wat Woensdag in Mosselbaai begin het. Wat wêreldbekers betref, is hierdie voorwaar `n grote.
Besoekers aan die plaaslike vliegveld was die afgelope week stomge-slaan deur vlieëniers wat klaarblyklik geen ontsag het vir die wette en oënskynlike beperkinge wat swaartekrag meebring nie.
Daar kon eerstehands beleef word hoe die enkelkajuit-masjiene, met `n koelkop-vlieënier aan die stuur, deur die lugruim tuimel en tol. Soos feniks op pad na die son pyl die masjiene loodreg die lug in.
Dan doof die enjin uit en die swaar blink metaal hang daar, vir enkele sekondes versteen, voor die tuig passasier en al soos `n verdorde herfsblaar terug na die aarde wieg. Onkundige toeskouers slaak `n sug van verligting wanneer die enjin slegs meters voor die aardoppervlak aangeskakel word en die tuig weer argeloos voortsnel. Vlieëniers laat die tuig se vlerke waaier om dan, met perfekte beheer onderstebo verby te swiep terwyl die man in die kajuit tong uitsteek vir hulle met hul voete plat teen die grond.
Talent, senuwees van staal en jare se ondervinding agter die stuur van massiewe passasiersvliegtuie in diens van kommersiële lugrederye beteken dat hierdie manne deur grense kan breek om die onmoontlike te vermag. "Ons beoefen die sport vir die suiwer genot daarvan en ons dra ons Protea-kleure met trots," het spankaptein Glen Warden, die afgelope week verduidelik. Warden het ook die plaaslike vliegklub lof toegeswaai.
"Dit is een van die beste fasiliteite in die land," het Warden aan die Oudts-hoorn Courant gesê. "Daar is talle munisipaliteite wat glad nie omsien na hul vliegvelde nie, maar hier word die fasiliteite puik bestuur. Alle eer moet aan Johan Strasheim en sy span gaan." Woensdag het die enjin-geluide uitgedoof namate spanlede hul laaste oefening ingekry het en daarna na Mosselbaai vertrek het.
Die Protea-kunsvliegspan sal hul staal moet wys teen die voorste vlieëniers van onder andere die Verenigde Koninkryke, Rusland, die Tsjeggiese Republiek, Portugal, Kanada, Pole, Brasilië, Nieu-Seeland, Australië en Swede.
Deelnemers aan die kompetisie ding mee in een van twee klasse: In die IWAC-klas word Suid-Afrika verteenwoordig deur Neville Ferreira, Glen Warden, Cliff Lotter, Leigh le Gonidec en die trio pa-en-seunsspan, Rob, Pierre en Jacques du Plooy.
SA se YAK 52-vlieeniers is Charles Urban, Mark Hensman, Bertus du Preez, Nigel Hopkins, Roger Deare en Jason Beamish.
Die Wêreld Kunsvliegkampioenskappe, tesame met die vierde Wêreld YAK-Kunsvliegkampioenskappe vind in Mosselbaai plaas van 26 November tot 3 Desember.
Klik hier vir 'n vorige nuusflits.
Lede van die Suid-Afrikaanse span en talle internasionale deelnemers het die dorp die afgelope week as basis gebruik vir hul voorbereiding aan `n inernasionale kunsvliegkompetisie in Mosselbaai. Foto: Jacques Swart
ARTIKEL EN FOTO: JACQUES SWART, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'