In die Oudtshoorn-streek is daar drie slange wat uiters gevaarlik en giftig is. Dit is ook die slange wat die meeste in woongebiede gevind word.
Mornay Thysse, 'n lid van Oudtshoorn-brandweer, het sedert 3 November tot 26 November 18 van hierdie slange gevang wat naby of selfs in mense se huise was.
Die pofadder (bitis arietans) se gif is sitotoksies wat beteken dat die gif die weefsel in die lyf aanval.
Die slange kom regoor Suid-Afrika voor en is ongeveer 90 cm lank met kenmerkende kamofleerpatrone.
Die Kaapse kobra, ook bekend as die geelslang (naja nivea), se gif is neurotoksies wat beteken dat die gif dadelik die senuweestelsel in die liggaam aanval wat onmiddellike behandeling noodsaaklik maak. .
Die slange word tussen 1,2 en 2 m lank en kom is die Wes-, Noord-, Oos-Kaap en Vrystaat voor. Kenmerkend van hulle is die bakkie wat by hulle koppe gevorm word as hulle regop staan.
Die boomslang (dispholidus typus) is uiters giftig en hemotoksies wat beteken dat die bloed die vermoë om te stol verloor en die slagoffer kan inwendig doodbloei. Die mannetjies is groen tot olyfgroen en die wyfies is lig of olyfbruin. Hulle kom ook oor die hele Suid-Afrika voor.
Lesers word gewaarsku om nooit self te probeer om 'n slang te vang nie. Skakel die munisipaliteit onmiddellik by 044 203 3000 sodat hulle 'n geskikte slangvanger kan uitstuur.
Wanneer 'n oproep gemaak word na die munisipaliteit om 'n slang aan te meld, selfs wanneer die slang reeds iemand gepik het, is dit belangrik om te kan verduidelik hoe die slang lyk en waar die slang is.
Die Oudtshoorn-hospitaal het bevestig dat hulle ten alle tye genoeg teengif vir skerpioen, slang- en spinnekopbyte het en in staat is om slagoffers onmiddellik te behandel.
Klik hier vir 'n vorige nuusflits.

Kaapse Kobra

Pofadder
ARTIKEL: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'