Bure en die eienaars van 'n aangrensende kafee wat die afgelope weke gesien het hoe die honde stelselmatig verwaarloos word het Dinsdag ingegryp en die owerhede verwittig van die twee uitgehongerde honde wat ooglopend deur die eienaar verwaarloos is.
Met die aankoms van die Oudtshoorn Courant by die huis het 'n uitgeteerde Shar Pei-tefie op die grond gelê en skaars asemgehaal terwyl 'n uitgeteerde Great Dane-reun lusteloos by haar gestaan het. 'n Jack Russell, wat ook honger en bangerig was het op die werf wat met papiere besaai was rondgeloop.
Bure het vertel dat hulle reeds verskeie kere met die inwoner van die huis, 'n vrou in haar vroeë twintigs, gepraat het oor die versorging van die honde en selfs aangebied het om die diere te voer. Magda Davel van Oudtshoorn Dierewelsyn het bevestig dat hulle reeds 'n waarskuwing uitgereik het by 'n vorige geleentheid, maar dat die honde op daardie stadium in die huis toegesluit was en die eienares nie op hulle kennisgewing gereageer het nie.
Pogings van skutmeester, Nico May, Davel en die Oudtshoorn Courant om met die vrou kontak te maak was vrugteloos aangesien sy nie oproepe beantwoord het nie. Sy het wel vir Davel 'n SMS gestuur "Wie is jy en wat soek jy?" waarop Davel geantwoord het dat haar diere weggeneem gaan word en dat sy moontlike klagtes in die gesig staar. Sy het nie daarop geantwoord nie. Sy het eers later Dins-
dagmiddag op 'n SMS van die Oudtshoorn Courant waarin sy verwittig is dat haar diere weggeneem word en dat haar huis ongesluit is en die polisie bekommerd is dat iemand haar eiendom kan wegdra geantwoord. "Ek is nie in die dorp nie. Huis is okay. Hoor jy wil met my praat." Sy het nie op daaropvolgende SMS'e gereageer nie.
May het die drie honde van die perseel verwyder en 'n veearts, dr. Glen, gevra om die Shar Pei en die Great Dane te ondersoek. Volgens dr. Glen was die Shar Pei te verswak om gered te word en hy het haar uitgesit. Sy het enkele weke tevore kleintjies gehad, maar dit is onbekend wat van die kleintjies geword het.
Nadat die polisie en beamptes die toneel verlaat het, het 'n jong man wat in die straat woon nadergekom en gesê die honde se eienares het hom gevra om te gaan kyk wat by haar huis aangaan aangesien sy in Mosselbaai is. Volgens hom het sy Maandagaand gery om by haar ouma in Mosselbaai te kuier. Hy het spaarsleutels gehad en het onderneem om die huis te sluit.
Die vrou het Woensdagmiddag 'n SMS aan die Oudtshoorn Courant gestuur met 'n telefoonnommer in Mosselbaai en 'n versoek dat sy by die nommer geskakel word. Haar oupa het egter die telefoon geantwoord en gesê dat hy namens haar met die Courant sal praat. Volgens hom was sy nie in Mosselbaai nie en werk sy saans in Oudtshoorn. Hy het heftig ontken dat die honde uitgehonger is.
"Daardie honde het elke dag kos gekry. Die Great Dane is siek en bly maer sy (sy kleindogter) wil hom laat uitsit as sy haar toelaag van haar pa kry en die Shar Pei het nooit reggekom na die kleintjies nie."
Die toelaag waarna hy verwys, word glo maandeliks aan haar betaal aangesien haar ouers oorsee werk. Dr. Glen het die stelling dat die honde gereeld gevoer is as snert afgemaak. "'n Hond lyk nie so as hy gereeld kos kry nie, ek skat hulle het vir ten minste drie weke bitter min of geen kos gekry nie. Die Great Dane is ook nie siek nie, hy het binne 'n dag al 'n hele bak kos opgevreet en is al op en wakker."
Hy vermoed dat die Shar Pei dalk siek was en weens wanvoeding nie kon herstel nie.
Deur die huis se venster was hondekos in die huis sigbaar en hope ontlasting van 'n klein hondjie dui daarop dat die Jack Russell dalk in die huis gebly het. Dit verduidelik moontlik waarom hy nie so uitgehonger soos die ander twee was nie.
Intussen is die skut oorval deur oproepe van mense wat belangstel om die honde aan te neem.
Die uitgeteerde Great Dane en Shar Pei is Dinsdagoggend by 'n huis in Jan van Riebeeckweg verwyder. Die Shar Pei was sterwend en is kort nadat hierdie foto geneem is deur 'n veearts uitgesit.
ARTIKEL EN FOTO'S: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn | Klein-Karoo nuus'