Die bevelvoerder van die Attaqua-honde-eenheid op Oudtshoorn, lt.kol. Chris Botes het Maandag tydens 'n demonstrasie van honde en hul begeleiders gesê dat honde wat deel was van huishoudings uitstekende potensiaal vir opleiding toon.
Botes het die media Maandag na die eenheid genooi en die verskillende dissiplines waarin honde gebruik word, verduidelik en ook gesê dat sommige van die eenheid se honde al begin oud raak en vervang moet word.
Terwyl die publiek se persepsie van polsiehonde een is van patrolliehonde wat verdagtes aankeer, word die honde volgens hulle ras en vermoëns opgelei om in een van elf dissiplines te spesialiseer.
Die verskillende dissiplines is: Patrollie, spoorsny, plofstof, uitsnuffel van bedreigde spesies, soek en redding, dwelmmiddels, skaaphonde, banknote, karkasse en huide, brandstigting en laastens menslike liggaamsvloeistowwe.
Volgens Botes is die opleiding van polisiehonde baie duur aangesien die begeleider saam met die hond deur die opleidingsproses moet gaan. Die opleiding van honde wat menslike vloeistowwe (bleod en semen) opspoor, duur ongeveer ses maande en is 'n gespesialiseerde dissipline. Tydens 'n demonstrasie het a.o. Dirk Greeff se Belgiese herdershond Max binne enkele sekondes 'n druppel semen wat iewers op 'n grasperk van ongeveer 30 x 30 meter opgespoor. Volgens Greeff kan die hond ook 'n fraksie van 'n druppel mensbloed wat op 'n plas dierebloed gedrup is, uitken.
Botes het verduidelik dat honde se reuksin 10 000 keer beter is as 'n mens s'n. Daar is huidig 16 honde by die eenheid op Oudtshoorn met 15 begeleiders. Botes beklemtoon dat honde wat as polisiehonde opgelei word volgens erkende en goedgekeurde metodes opgelei word en dat skenkings volgens 'n streng kontrak geskied. 'n Geskikte ouderdom vir honde wat vir skenkings oorweeg word, is tussen nege maande en drie jaar. Honderasse wat gereeld gebruik word, is Duitse en Belgiese herdershonde, Skotse skaaphonde (border collies), kelpies, rottweilers en jack russels.
Inwoners wat berlangstel om honde vir opleiding te skenk, kan een van die volgende kontaknommers in die verskillende dorpe skakel:
- Oudtshoorn: 044 203 9058 / 082 559 4588
- George : 044 803 9112 / 082 778 7279
- Mosselbaai : 044 606 3800 / 082 778 7285
- Knysna: 044 302 6666 / 082 778 7282
- Beaufort-Wes: 023 414 8861 / 082 778 7275