Tydens die oorhandiging van die sertifikaat het die waarnemende uitvoerende hoof van Kuns Onbeperk, Rhodé Snyman, gesê die Oudtshoorn Courant was instrumenteel in die bekendmaking van die fees tydens die begin jare en het sedertdien elke jaar bygedra tot die sukses van die fees. Snyman en Olda Janse van Rensburg, wat beide ook erken is vir 20 jaar diens aan die Absa KKNK was al twee ook jare gelede verbonde aan die Oudtshoorn Courant.
Op 7 April 1995 het die Oudtshoorn Courant die heel eerste KKNK, wat op daardie dag begin het op die voorblad aangekondig onder die opskrif: Klein Karoo Kunstefees - Die dorp trek saam.
In die berig blyk dit ook dat daar vroeg reeds kritiek teen die fees was. Terwyl sommige mense die fees verwelkom het, het ander gesê dat dele van die gemeenskap uitgesluit gaan word omdat kaartjies te duur is en iemand het ook gekla dat daar nie meer klem op Langenhoven ge-plaas word tydens die fees nie.
Die daaropvolgende week het die Oudtshoorn Courant se voorblad verslag gedoen oor die KKNK se heel eerste Kaktus op die Vlaktes-konsert waar die ongeveer 4 500 geesdriftiges hulle nie deur reën laat afskrik het nie.
(Vir diegene wat die afgelope 20 feeste wil herleef is 'n pragboek KKNK 20 tydens hierdie jaar se Absa KKNK vrygestel.
Die boek, geskryf en saamgestel deur Ilza Roggeband het interessante verhale en statistieke oor elk van die afgelope 20 feeste en behoort op elke KKNK aanhanger se boekrak te wees. Die boek kos R250 en is beskikbaar by die Absa KKNK kantore in Voortrekkerweg.)

Die redakteur van die Oudtshoorn Courant, Hannes Visser ontvang die koerant se sertifikaat van die voorsitter van die Absa KKNK, prof. Leatitia van Dyk. Foto: Hans van der Veen