Dit is die belofte van 'n man wat 'n lens op OLX adverteer wat 'n sakeman van Johannesburg laat besluit het om die Oudtshoorn Courant te nader om vas te stel of die kameralens en die verkoper van De Rust werklik bestaan.
Die sakeman het die Oudtshoorn Courant via die hoofkantoor op George gekontak nadat hy op OLX gesien het 'n man van De Rust adverteer 'n peperduur Nikon kameralens vir R34 000.
Die "verkoper" wat homself per e-pos as Richard Masson van Steytlerstraat 2, De Rust ,voorgestel het, het foto's van die kameralens op OLX geplaas en daarby gesê die lens is bykans splinternuut en dat hy in besit is van al die nodige dokumentasie.
Die Oudtshoorn Courant het sedert verlede Vrydag probeer om Masson in die hande te kry en Maandagoggend het hy uiteindelik sy selfoon geantwoord. Hy het met 'n swaar buitelandse aksent gepraat en was baie ontwykend toe hy gevra is wanneer hy tuis sal wees sodat die kameralens besigtig kan word. Daarna het hy nie weer oproepe beantwoord nie.
Die koerant het met adjudant-offisier Elsje Pienaar van die De Rust-polisie kontak gemaak en sy het gesê dat daar nie so 'n persoon in Steytlerstraat woon nie, maar dat die eienaar van Steytlerstraat 2 al lastig geval is deur mense wat skynbaar reeds geld vir 'n kameralens oorbetaal het en die lens kom soek het.
Die Oudtshoorn Courant het Dinsdag 'n afspraak gemaak met Willie Poley, die regmatige eienaar van Steytlerstraat 2 en 'n onrusbarende ontdekking gemaak.
Volgens Poley het ten minste nege erg ontstelde mense van sover as Colesberg en Jeffreysbaai sedert Junie by sy huis opgedaag en daarop aangedring om die kameralens te sien.
"Ek het uit radeloosheid vir die polisie gaan vra om te help, want wanneer kom hier iemand aan wat 'n klomp geld aan die skelm oorbetaal het en my nie glo as ek verduidelik dat ek niks daarvan weet nie? Ek voel onveilig in my eie huis deur die man se skelmstreke."
Volgens Poley gebruik die man verskillende name, want party mense wat kom navraag doen het na 'n meneer Schmidt gesoek.
Die kameralens, Nikon AFS VR II ED 200-400/4G, is steeds op twee plekke op OLX geadverteer onder die naam Dave.
Die Oudtshoorn Courant het op OLX 'n navraag aan die "verkoper" gestuur en ook 'n e-pos aan Masson gestuur om te vra waar R30 000 vir die lens "inbetaal" kan word. Daar was egter geen reaksie nie en die selfoon word ook nie meer beantwoord nie.
Klik hier vir 'n verwante nuusflits.

Die kameralens en bykomstighede wat geadverteer is.
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste De Rust, Klein Karoo nuus'