Haylene Prins, 'n gr.11-leerder van Hoërskool Oudtshoorn het Woensdagoggend op pad skool toe met haar motorfiets in die kant van 'n afleweringstrokkie vasgery. Die ongeluk het plaasgevind sekondes nadat 'n ambulans, wat op pad was na 'n ongeluk in Calitzdorp, oor die besige kuising by Baron van Reedestraat en Voortrekkerweg gejaag het.
Haylene was in Voortrekkerweg en het reg voor die kantoor van die Oudtshoorn Courant saam met ander motors plek gemaak vir die ambulans. By die kuising het 'n trokkie wat regs in Langenhovenweg wou draai ook vir die ambulans gewag om verby te kom.
Haylene was byna by die kruising toe die trokkie wat in die middel van die kruising was begin ry het. Haar motorfiets het die trok aan die linkerkant getref en Haylene is deur die lug geslinger en het in die pad te lande gekom. Haar valhelm is deur die slag afgeruk. Omstanders het haar onmiddellik te hulp gesnel. 'n Verpleegsuster wat van diens was en 'n lid van die publiek wat 'n opgeleide paramedikus is, het haar bygestaan totdat paramedici opgedaag het.
Omstanders was bekommerd oor haar toestand aangesien daar bloed by haar mond was en sy baie gehuil het. Sy is per ambulans na die Mediclinic Oudtshoorn geneem.
Die bestuurder van die trokkie en sy passasier het op die toneel aan die Oudtshoorn Courant gesê dat hulle in die kruising vir die ambulans gewag het en toe begin ry het omdat hulle in die pad was vir verkeer wat weer begin vloei het. "Die motors oorkant ons het stilgestaan en ons het net begin ry toe ek die motorfiets sien. Sy kon nie betyds stop nie en ons was in die pad," het die passasier gesê. 'n Ooggetuie het op die toneel gesê dat die verkeerslig reeds geel geslaan het toe die motorfiets en die trokkie in die kruising was. "Dit was 'n aaklige gevoel om te sien dit gebeur en mens kan niks doen nie," het sy gesê.
Een van die personeellede van die Oudtshoorn Courant, Jo-Marie de Kock was een van die eerstes op die toneel en het die nooddienste ontbied.
Haylene se ma was kort na die voorval op die toneel. Terwyl sy haar dogter ondersteun het, het die bestuurder van 'n bakkie, wie se aandag afgetrek is deur die ongeluk, agterin haar geparkeerde motor 'n blok verder vasgery. Nadat Haylene in die ambulans gelaai is, het 'n geskokte Sharon Prins haar na haar motor gehaas. "Ek kan nie glo twee goed gebeur binne minute van mekaar met ons nie, maar ek is nou eers besorg oor my dogter," het sy gesê.
Haylene is na behandeling uit die hospitaal ontslaan en het selfs kans gesien om dieselfde aand by haar skool se musiekvertoning op te tree. Twee onderwysers van Hoërskool Oudtshoorn was ook deurentyd op die ongelukstoneel om Haylene en haar ma te ondersteun.
Sekondes na die ongeluk het omstanders Haylene te hulp gesnel, links op die foto is Jo-Marie de Kock van die Oudtshoorn Courant wat die nooddienste gekontak het. Foto's: Hannes Visser
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn | Klein-Karoo nuus'