Hierdie is 'n jaarlikse projek van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika en die Word Riders-groep word elke jaar meer.
Die Word Riders het Maandag Excelsior, Gamka-Oos Primêr en Hoërskool Calitzdorp besoek waar 133 Bybels aan graad 7-leerders oorhandig is. Hulle het ook skole in Klaarstroom, Vlakteplaas en Rooi Rivier besoek sowel as St Konrad Primêr in Dysselsdorp en het 188 Bybels daar uitgedeel. Dinsdag het hulle Grootkraal Primêr, Voorbedag Primêr en Rodewal Primêr in Schoemanshoek besoek en 200 Bybels oorhandig. By Bongolethu Primêr is 82 Xhosa Bybels oorhandig en die graad 7 - leerders van De Villiers Primêr, Protea Primêr en Sacred Heart Primêr het 218 kinders Bybels ontvang.
Hierdie is die vierde agtereenvolgende jaar wat hulle die toer onderneem.
Volgens Mims Turley, hoof van kommunikasie van die Bybelgenootskap, het die toer op 22 Maart in Bellville begin.
"Die week-lange toer strek vanjaar deur die Klein-Karoo langs die Tuinroete en eindig op 29 Maart in Struisbaai. Die Bybelgenootskap het 'n graad 7 - projek en ons doel is om vanjaar 61 skole te besoek en ongeveer 3247 Bybels uit te deel," het sy gesê.
Die verspreiding van hierdie Bybels word moontlik gemaak deur die Bybelgenootskap se Bybels vir Graad 7-projek, asook deur fondse wat deur die motorfietsryers ingesamel word.
Enige iemand wat meer inligting oor hierdie toer wil hê, of wil help om meer Bybels vir graad 7-leerders beskikbaar te stel, kan gerus met die Bybelgenootskap kontak maak. Skakel Turley by 083 255 5765.
Die Word Riders het Dinsdag Bybels by Protea Primêr in Bridgton uitgedeel. Die motorfietsryers het saam met die kinders gaan sit en hulle vertel hoe om die Bybel reg te lees en saam met hulle gebid. Foto's: Liezl van Niekerk
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'