Carin, 'n sielkundige, en haar man Wessel, 'n oudmunisipale bestuurder van Oudtshoorn-munisipaliteit, was op pad Bloemfontein toe met hul seun, Ralph, wat medies aan die Universiteit van die Vrystaat sou gaan studeer toe die ongeluk gebeur het. Carin is op slag dood en Ralph het eers later aan sy wonde beswyk.
Carin is 'n oudleerder van Hoërskool Oudtshoorn en beide sy en haar man was baie geliefd in die dorp.
"Dit het nog nie heeltemal by my ingesink nie. Ek dink eers wanneer ek met my eie oë sien hulle is dood sal dit my tref. Charles, Ralph se oudste broer vat die ding baie erg. Hy en sy boetie was beste vriende en het feitlik niks sonder mekaar gedoen nie. Vakansies was hulle heeltyd by mekaar," vertel Anna.
Die Oudtshoorn Courant het ook self met Charles gepraat en hy sê hy en sy pa probeer dit verwerk maar dit is moeilik.
"Ons probeer sterk wees, maar dit is baie emosioneel en dis moeilik om dit te verwerk. Dit is 'n groot skok vir die familie," sê hy.
Volgens Anna het Wessel se linkerarm in die ongeluk seergekry en het hy Dinsdag hospitaal toe gegaan om bloed van die arm te laat dreineer.
"Ek is ook nie heeltemal seker hoe die ongeluk gebeur het nie, maar soos ek verstaan het was daar baie rukwinde op die pad en het Ralphie seker beheer oor die voertuig verloor en toe rol die kar," vertel sy.
Volgens Ralph se oudskoolhoof van Dirkie Uys in Moorreesburg, Dawie Diedericks, het Carin soms van die kinders by die skool berading gegee as hulle dit nodig het.
"Moorreesburg is 'n klein dorpie en dit is altyd mense soos hulle wat 'n groot invloed op ander het. Ralph was geliefd onder sy vriende en was 'n sout-van-die-aarde-kind. Hy het presteer, akademies en op sportgebied en het sy matriek in 2013 met sewe onderskeidings geslaag. Hy het altyd ander probeer help om ook hul beste in die lewe te bereik. Dit is mense wat regtig gemis sal word," sê hy.
Carin en Ralph word Saterdag uit die NG kerk Oudtshoorn-Wes (hoek van Buitekant- en Tuinstraat) begrawe. Daar sal 'n ter aarde bestelling 10:00 vir die familie wees en die diens begin 11:00 in die kerk.
Die Oudtshoorn-munisipaliteit het ook in 'n ver-klaring hul innige meegevoel teenoor die Rabbets-familie uitgespreek.
" Die raad, administrasie en die personeel van die munisipaliteit neem met droefheid kennis van die afsterwe van die eggenoot en seun van 'n voormalige amptenaar en waarnemende munisipale bestuurder, mnr. Wessel Rabbets. Rabbets was sedert 2009 tot 2010 waarnemende munisipale bestuurder en was sedert 1993 tot 1998 assistent bestuurder in die korporatiewe departement."

Ralph Rabbets.
ARTIKEL: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'