April Claassen van Volmoed het verlede week vertel hoe hy twee krokodille in die rivier gewaar het terwyl hy sowat twee weke gelede visgevang het.
Volgens Claassen het hy 'n groot krokodil - met kake so lank soos sy arm - in die groot visgat gewaar terwyl hy op 'n oop kol tussen die riete op die rivieroewer gesit en visvang het. Hy en sy vrou het 'n paar dae later glo ook 'n kleiner krokodil in die water naby 'n laagwaterbrug gewaar.
Die krokodil-ekspedisie, bestaande uit ao. Fasie de Kock en Nick Creamer van die Oudtshoorn-veediefstaleenheid, Eugene Ellis en Niel Martin, krokodilkenners van Cango Wildlife Ranch, het Claassen na die rivier vergesel sodat hy die plekke kon uitwys.
Claassen het by die twee poele gewys waar hy en sy vrou die krokodille gesien het.
Alhoewel die krokodille die egpaar so kwaai die skrik op die lyf gejaag het dat hulle nog nie weer gaan visvang het nie, was daar tydens die soektog geen teken van hulle nie.
Ellis, wat gereeld op die rivier roei en van die laagwaterbrug af visvang, het onderneem om sy oë oop te hou vir tekens van die krokodille – sleepmerke, 'n nes, dalk 'n krokodil wat op 'n sandbank of modderwal in die son lê en bak. Die reptiele kom nie natuurlik in die riviersisteme hier voor nie, maar sou dit blyk dat hulle wel in die rivier skuil sal hulle verwyder moet word omdat dit 'n gevaar vir mense en vee inhou.
Die krokodil sal nie sommer mense aanval nie, tensy dit vir kos aangesien word, meen Martin en Ellis is van mening dat daar genoeg vet visse in die rivier is wat die krokodille van 'n voldoende dieet behoort te voorsien.
CapeNature het aangedui dat hulle die nodige permit sal uitreik vir die verwydering van enige krokodille indien hulle teenwoordigheid bewys is.
"Ons wil nie hê inwoners moet gaan soek na die krokodille nie, maar as iemand wat in die rivier visvang en die krokodille of tekens van die reptiele gewaar, moet hulle ons asseblief kontak," het De Kock gesê.
Alhoewel die krokodille nog nie deur ander lede van die publiek gewaar is nie word landbouers tog versoek om hul werkers oor die moontlikheid van krokodille in te lig en met Agri Klein Karoo se kantoor by 044 272 8304, of De Kock by 044 203 9087 in verbinding te tree indien hulle of hul werkers die reptiele of tekens van hul teenwoordigheid gewaar.

April Claassen van Volmoed beduie vir ao. Fasie de Kock van die Oudtshoorn Veediefstaleenheid en Eugene Ellis van Cango Wildlife Ranch waar hy 'n krokodil in die Olifantsrivier gewaar het.
ARTIKEL EN FOTO: TISHA STEYN