Die 18 jarige man het die aandag van verkeersbeamptes getrek toe hy in Voortrekkerweg gery het.
Die beamptes het aangedui dat hy moet stilhou, maar hy het geweier en selfs pogings om hom tussen twee patrolliemotors vas te keer het misluk. Hy het in 'n wit Nissan Maxima in die rigting van De rust gevlug en is deur twee verkeersvoertuie agternagesit.
volgens 'n getuie het die man net verby Rose Valley byna beheer oor die motor verloor en rakelings by 'n groep kinders verbygejaag.
Sowat 7 kilometer verder het hy weer beheer oor die motor verloor. Die motor het die pad verlaat, verskeie kere gerol en op een sy teen 'n draadheining tot stilstan gekom. Toe verkeersbeamptes oomblikke later op die toneel stilhou het die bestuurder reeds deur die heining gekruip en agter 'n bos prober wegkruip. Hy is in boeie geplaas en 'n ambulans is ontbied. 'n Mediese dokter en haar man wat op die ongeluk afgekom het, het die man bygestaan totdat die nooddienste opgedaag het.
Ten spite van die spoed waarteen hy gery het en die kere wat die motor gerol het was die man skynbaar ongedeërd.
Hy het op die toneel gesê dat hy weggejaag het omdat hy dwelms in sy besit gehad het en het aangevoer dat hy tik by die venster uitgegooi het voordat hy aangekeer is. Snuffelhonde van die polisie se honed-eenheid kon egter geen tik vind nie.
Die man verskyn op 3 Maart in die hof op klagtes van dronkbestuur sowel as nalatige en roekelose bestuur.
'n Dokter (in blou bloes) wat op die ongeluk afgekom het sien om na die bestuurder van die wit Maxima wat omgeslaan het terwyl hy vir verkeersbeamptes weggejaag het. Foto: Hannes Visser.
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn | Klein-Karoo nuus'