Die kennisgewing teen die muur van die ontspanningsplek. Uncle Japes se Pool Shop op sy erf in Begonialaan Toekomsrus sê dit alles: "Geen skelms, drank, dwelms of vuil-taal toegelaat."
"Dit hou die kinders weg van die strate, van dwelms, drank en al die ander lelike dinge wat so nadelig is vir hulle. Ledigheid is die duiwel se oorkussing," sê Japie.
Op Moedersdag, het hy, danksy die finansiële steun van die kantoor van die onder-burgemeester van Oudtshoorn, Vlancio Donson, 'n baie suksesvolle potspel- en potjiekoskompetisie gehou wat meer as 120 jongmense van regoor Bridgton na Begonialaan gelok het.
"Ek het die dag I am Drugs free Day genoem en dit was 'n riem onder die hart om soveel jongmense bymekaar te sien wat hulself sonder drank en dwelms geniet."
Sestien potspelspanne van vyf het ingeskryf terwyl agt potjiekosmakers mekaar die stryd aangesê het.
Al die kos is na die beoordeling gratis bedien.
Die motorklub, Xtreme Racing Crew, 'n groep jong manne en vroue wat hulle beywer om die jeug bewus te maak van padveiligheid, het aan albei kompetisies deelgeneem.
"Ons het besluit om deel te wees van die geleentheid om sodoende ook jongmense te betrek by ons aktiwiteite in die gemeenskap soos sopkombuise en skenkings van komberse aan behoeftige gesinne," sê Mark Anthony, woordvoerder van die motorklub.
Donson sê die Oudtshoorn-munisipaliteit het 'n verpligting teenoor die dorp se jongmense en daarom staan sy kantoor se deur oop vir projekte waarby die jeug betrek word.
Volgens Koeries beplan hy om die potspelkompetisie uit te brei met meer spanne, en later by 'n federasie in die SWD te regi-streer om aan jongmense van die woonbuurt meer geleenthede te bied. 'n Dominotoernooi is ook in sy agterkop.
Hy het aan die begin van die jaar ook 'n Terug Skool toebewusmakingsprojek aangebied om kinders die belangrikheid van skoolgaan te leer.
Koeries sê hy beplan nog baie projekte vir die jeug omdat hulle hom na aan die hart lê.
Niklaas van Wyk was die wenner van die potjiekoskompetisie, maar elkeen van die deelnemers is met 'n prys huis toe. Die Team N-span het die potspelkompetisie gewen.
Belangstellendes kan Koeries by 083 766 8972 skakel.

Japie Koeries doen sy deel om jongmense van die strate af te hou. By hom is sy kleinseun Xavier (6)