Volgens sy pa, Kobus Barnard, is dit net genade dat hy leef.
"Hy het ernstige beserings aan sy elmboog opgedoen en is vol snye en skraapmerke, maar dit is 'n wonderwerk dat my seun leef," sê hy.
Jaco was Maandagaand op pad terug van 'n skopboksklas en het in Voortrekkerweg in die rigting van Calitzdorp gery toe 'n motor regs voor hom inry. Die motor was op pad in George se rigting.
"Ek het Maandagaand in die hospitaal vir hom gesê 'n mens mag nie lift met 'n leerlinglisensie nie, maar pappa is nie kwaad nie, want jy het vir Jesus ge-lift. Ons is so dankbaar hy leef."
Hy het verder gesê dat hy besef het dat 'n mens se lewe reg moet wees met God omdat enigiets enige oomblik kan gebeur. Jaco is Dinsdag na George-hospitaal oorgeplaas om 'n tweede opinie rakende die beserings aan sy elmboog te kry.
Volgens sers. Gretchen Micheals, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, is die bestuurder van die voertuig nie beseer nie. 'n Klag van roekelose en nalatige bestuur word ondersoek.
Barnard het gister (Donderdag) om 13:00 `n operasie in die George-hospitaal ondergaan om weefsel in sy skouer te heg. Hy het steke aan `n wond in sy been gekry en het teen gsiter nog erge pyn verduur.

Die motor het na bewering by die kruising van Voortrekkerweg en Baron van Reedestraat voor die motorfiets ingedraai.
ARTIKEL: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
Klik hier vir 'n vorige artikel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'