Volgens 'n ooggetuie het die ongeluk Maandagmiddag plaasgevind toe 'n trokkie van Simbela bestuurskool 'n U-draai by die kruising van Voortrekkerweg en Oxfordstraat gemaak het.
Die bestuurder kon nie die U-draai voltooi nie en het agteruit gery, reg voor 'n aankomende Mercedes Benz in wat in Voortrekkerweg afgery het.
Om die trokkie te vermy het die bestuurder van die Mercedes na regs uitgeswaai en 'n lamppaal op die middelmannetjie van Voortrekkerweg getref. Die ongeluk is met geslote baan televiesiekameras van Winston Linford motors vasgevang.
Alhoewel die ongeluk langs die Simbela trokkie gebeur het, het die trokkie eenvoudig weggery. n Lid van die publiek, Daniel Terblanche, wat die ongeluk gesien gebeur het, het agter die trokkie aangery tot waar dit in Bongolethu by 'n huis oorkant Fizikile Sekondêre Skool ingedraai het. Hy het die owerhede laat weet waar die trokkie was.
'n Joernalis van Die Hoorn, Liezl van Niekerk, wat in die kantoor was ten tye van die ongeluk is deur 'n lid van die publiek ingelig dat die trokkie wat weggery het opgespoor is. Aangesien iemand van Die Hoorn reeds op pad was na die ongeluk het Van Niekerk na die adres toe gery waar die trokkie was.
Volgens haar was daar reeds wetstoepassers op die toneel en toe sy 'n foto van die trokkie wou neem het 'n man, vermoedelik die instrukteur wat in die trok was, haar gewaarsku om nie foto's te neem nie. "Ek het aan hom verduidelik dat ek in 'n openbare straat is met lede van die publiek rondom ons en dat dit my reg is om foto's te neem," vertel sy. Sy verduidelik dat sy toe besluit het om slegs 'n foto te neem van die mense en die wetstoepassers wat voor die huis vergader het. "Toe ek met my kamera uit die motor klim het die man op my afgestorm. Hy het my met sy een hand aan die keel gegryp en met die ander hand probeer om my kamera af te vat. Terwyl hy my gewurg het, het die wetstoepassers 'n entjie weg net staan en kyk."
Sy sê dat die man haar teen die motor gestamp het en dat sy besef het hy gaan haar kameralens afbreek en haar ook seermaak. "Ek het gegil en toe eers het die wetstoepassers nadergestaan en die man gekeer, maar hy het steeds my kamera beetgehad en 'n omstander het sy hand toe van my kamera afgedwing."
Van Niekerk sê dat sy erg geskok was en so vining moontlik die toneel verlaat het. "Ek het aanvaar dat die wetstoepassers, wat gesien het hoe die man my aanrand, hom sou aanhou, maar toe ek later by hulle kantoor gaan navraag doen het hulle gesê dat hulle nie gronde het om hom aan te hou nie. Ek was woedend en wou weet wie die man was sodat ek self 'n klag kon gaan lê, maar hulle het geweier om sy naam vir my te gee."
'n Lid van die publiek het egter later die man se naam aan haar gegee. Sy is met die naam en die foto wat sy geneem het terwyl hy op haar afgestorm het polisiestasie toe om 'n klag te lê. Volgens haar was die lid aan diens in die aanklagkantoor nie baie hulpvaardig om die verklaring af te neem nie. Een van die polisielede het glo ook die man op die foto herken en gevra wat hy verkeerd gedoen het.
Kapt. Louis Visser, kommunikasiebeampte van die SAPD op Oudtshoorn het bevestig dat 'n klag van roekelose en nalatige bestuur ten opsigte van die ongeluk ondersoek word en dat 'n klag van aanranding aanhangig gemaak is. Alhoewel die klag reeds reeds Dinsdag gelê is en 'n foto van die person veerskaf is, was niemand nog teen gister aangekla nie.
Die Oudtshoorn Courant het Dinsdagoggend 'n navraag aan mnr. Gavin Juthe, waarnemende direkteur van gemeenskapsveiligheid en mnr. Warren Coetzee, wat in beheer van die wetstoepassers is, gestuur om te vra of die beweerde optrede deur die wetstoepassers ondersoek word. Teen saktyd gister is daar nog geen antwoord op navrae ontvang nie.
Die voorval is ook deur die Oudtshoorn Courant aan die Wes-Kaapse minister van vervoer, Robin Carlisle, en die department van vervoer gestuur. In reaksie het Carlisle die volgende gesê:
“This situation of chaotic driving school instruction in Oudtshoorn cannot continue. If a solution cannot be quickly found I will request that the license testing centre be closed."
Die Oudtshoorn Courant het hom Woensdag egter in 'n sterk-bewoorde reaksie gevra of hy dink dit is regverdig om die toetsstasie te sluit en die inwoners van Oudtshoorn daardeur te straf omdat die department oënskynlik nie in staat is om die bestuurskoolkwessie te reguleer nie. In antwoord daarop het hy gister gesê dat die situasie dalk beter aangespreek sal word sodra die nuwe politieke bedeling op die dorp in plek is.
_573189250.jpg)
Die Mercedes Benz het 'n lamppaal getref nadat die bestuurder vir 'n ryskooltrok uitgeswaai het wat voor hom 'n U-draai gemaak het.
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn | Klein-Karoo nuus'