Soos die DBV, funksioneer KAPS onder die dierebeskermingswet. Diere wat ter plaatse van hul huise verwyder word, word na die munisipale skut geneem. Daar word die diere vir sewe dae gehou waarna hulle die eiendom van KAPS word, wat nuwe tuistes vir die diere soek.
O’ Kennedy, voorheen `n DBV-inspekteur tot hierdie organisasie hul deure op die dorp weens finansiële tekorte moes sluit, bedien `n area vanaf Calitzdorp tot Swellendam. Sy moet egter nou noodgedwonge ook weekliks `n paar dae aan Oudtshoorn afstaan.
“Mense maak hul honde met kapmesse dood, dit is waar,” vertel O’ Kennedy. “Daar is mense wat hul honde aan die brand steek of hulle lewend begrawe. En dit is nie omdat mense wreed wil wees nie; in die meeste gevalle is dit omdat mense bloot nie meer weet wat om met die dier te doen nie. Hulle kan self sien dat hul diere ondervoed of sieklik is, maar hulle weet nie hoe om dit te hanteer nie. Mense in landelike gebiede kan dikwels ook nie by veeartse of organisasies uitkom om vir hulp te vra nie.”
Benewens haar werk om na afgesonderde gemeenskappe uit te reik, fokus O’ Kennedy ook op opvoeding. “Op my af dae probeer ek om skole te besoek en die kinders meer te leer van dieresorg. Dit is soms maar moeilik omdat die kind `n gans ander werklikheid by hul ouerhuis beleef.”
In Kannaland, die gebied waar sy meestal werk, word munisipale ordonnansies streng toegepas. In Oudtshoorn, vertel O’ Kennedy, is dit egter `n ander storie. “Soveel honde word aan kort penne vasgemaak met net `n halwe meter loopdraad. Daar is ook geen steriliseringsprogramme nie. Sover ek gaan probeer ek om diere te steriliseer.”
O’ Kennedy vertel dat boetes van R500 uitgereik word aan enigeen wat `n ongesteriliseerde hond het en nie oor `n teëlpermit beskik nie. “Ons werk op die beginsel van twee waarskuwings waarna optrede volg.”
Verlede Vrydag het hulle besoek gebring aan Calitzdorp en Zoar en Maandag aan Volmoed Kliplokasie. Daar het verskeie mense hul honde en katte vrywillig oorhandig.
Veghonde is nog `n probleem in die dorp wat O’ Kennedy slapelose nagte besorg. “Elke skoolkind loop met `n onhanteerbare wapen,” verduidelik sy. “Een mens kan nie die hele gebied red nie, maar iets drasties sal gedoen moet word.”
In Oudtshoorn word sy tans bygestaan deur Lee-Anne von Sittert wat haar hulp vrywillig aangebied het. “Ek het net besef dat mense self sal moet inspring en help. Die nood is baie hoog.”
Zonel O' Kennedy, KAPS-inspekteur en Lee-Ann von Sittert, vrywilliger wat hul bes doen om die nood van diere in die omgewing te verlig. Foto: Jacques Swart
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn | Klein-Karoo nuus'