Hennie de Jager, wat by die korrektiewe dienste werksaam is het by die kruising spoed verminder om in Voortrekkerweg in te draai toe sy fiets se voorwiel 'n laag gruis in die pad tref en onder hom uitgly. De Jager het sowat tien meter op sy regtersy oor die teeroppervlak geskuif nadat sy kop die teerblad getref het. Sy fiets het 'n ent verder tot stilstand gekom.
Hy kon daarin slaag om uit die pad tot op die middelmannetjie te kruip terwyl omstanders sy fiets uit die pad geneem het. Personeel van die Oudtshoorn Courant het die skuurgeluid gehoor en De Jager te hulp gesnel en die ambulans sowel as sy vrou Christina ontbied.
De Jager het nie 'n valhelm gedra nie en het 'n groot wond aan sy kop opgedoen wat vrylik gebloei het. Hy is per ambulans na die Mediclinic geneem waar hy steke aan die kopwond ontvang het. Hy is ook behandel vir ernstige skaafwonde en kneusplekke aan sy regterbeen en -heup. Hy is na die behandeling ontslaan, maar 'n skandering is Woensdag in George gedoen om te bepaal of die hoofbesering ernstig is.
Hy het Dinsdagmiddag aan die Oudtshoorn Courant gesê dat hy in die toekoms sal verseker dat hy sy valhelm dra voordat hy op die fiets klim.
Die koste van die skade aan die fiets, wat volgens hom by die R50 000 werd is, was teen Woensdag nog nie bekend nie.
De Jager het Woensdag gesê dat hy ongelukkig is dat die gruis wat volgens omstanders al sedert die kunstefees by die kruising lê nie verwyder is voordat die pad Sondag vir verkeer oopgestel is nie. Terwyl daar op die ambulans gewag is, het 'n motor wat by die kruising stilgehou het ook op die gruis gegly. 'n Munisipale werker wat toevallig op die toneel was het die gruis met 'n graaf begin verwyder.
Hennie de Jager haal sy beskadigde fiets by die kantoor van die Oudtshoorn Courant nadat hy uit die hospitaal ontslaan is.
ARTIKEL EN FOTO'S: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR