ASLA is besig om rioolpype by Rose Valley te lê en 'n sloot van tussen 2 m en 3 m diep word met 'n meganiese grawer reg langs die huisies langs die hoofpad gegrou.
Dina en Heinrich Gelant moes inderhaas Woensdagmiddag al hulle huisraad uitdra en hulle opslaanhuis afbreek om plek te maak vir die groot masjien. Met die aankoms van die Oudtshoorn Courant het Dina en haar drie kinders moedeloos tussen die huisraad, planke en plate gesit terwyl Heinrich se werkgewer hom munisipaliteit toe geneem het om hulp te soek.
Op die erf langsaan moes Esau en Mina Meyer inderhaas die helfte van hulle huis wat hulle met hulle sewe kinders deel, afbreek.
Volgens die inwoners is hulle ingelig dat daar 'n sloot gegrawe sou word, maar daar is aanvanklik glo aangedui dat die sloot voor die huise sal verbygaan.
"Toe kom hulle Maandag en gooi 'n kalkstreep hier agter ons huise verby. Ons het geweet hulle gaan grou, maar niemand het vir ons gesê ons sal ons huise
moet skuif nie," vertel die ontstelde Meyers. Mina sê haar kinders het haar by die werk gebel en gesê, "Mammie julle moet kom, die masjien gaan die huis platstoot."
By navrae het die munisipaliteit 'n brief beskikbaar-gestel waarin die inwoners van Rose Valley ingelig word dat 34 blokke spoeltoilette opgerig gaan word en dat ASLA Maandag 21 Januarie met opmetings sou begin. Die laaste paragraaf van die brief lui: "Die opmeting sal bepaal hoe die pyplyn gaan loop. Ons voorsien dat daar moontlik van u wonings sal moet skuif. Ons vra u mooi om voorbereid hierop te wees."
'n Landmeter van ASLA wat Woens-dag op die terrein was het gesê dat hulle Maandag die kalkstreep gegooi het en dat die munisipaliteit onderneem het om mense in te lig indien hulle huise moet skuif. Volgens hom is huise wat geskuif moes word gemerk. Die Meyers en die Gelants ontken dat hulle ooit ingelig is dat hulle huise moet skuif of dat hulle huise gemerk is.
Teen Woensdag-aand was die twee gesinne hard aan die werk om hulle skuilings betyds vir die nag opgerig te kry. Die munisipaliteit het laat die middag 'n paar plate en vier pale afgelaai, maar volgens die twee gesinne was dit te min om 'n voldoende skuiling te bou aangesien van die bestaande hout en plate te stukkend was vir hergebruik.
Inwoners was ook diep bekommerd oor die gevaar wat die lang sloot wat op plekke tot 3 m diep is vir kinders inhou. 'n Hele groep kinders was juis met die Oudtshoorn Courant se tweede besoek laat Woensdagmiddag besig om in die sloot rond te klouter. 'n Woordvoerder van ASLA het telefonies onderneem om die kinders te gaan verwilder en ouers te vra om die kinders van die sloot weg te hou.
Twee gesinne van Rose Valley moes Woensdag inderhaas hulle eie huise afbreek om plek te maak vir 'n diep rioolsloot. Dina Gelant sit in die agtergrond by haar huisraad en wag vir hulp om haar huis weer staan te maak.