Randal April, wat gister sy verjaarsdag gevier het, het gistermiddag aan die Oudtshoorn Courant vertel dat hy wakker was tydens die ongeluk. Hy het aan die linkerkant van die bus gesit, reg agter die trap op die boonste vlak.
"Die meeste mense het geslaap, maar 'n paar van ons was wakker en ons het gesien dat die bus te vining teen die afdraend afry. Toe die bus die draai vat het die drywer hard gebriek en die mense het vorentoe geval. Die volgende oomblik het die bus teen die reling langs die pad begin skuur en die mense het gegil."
Hy vertel dat die bus toe eers na links geswenk het, weg van die reling af, maar toe weer na regs geswaai het en toe omgeslaan het. "Ek het vasgehou, maar toe die bus val het almal wat links sit op die ander mense geval terwyl die bus op die pad geskuur het. Dit was vreeslik, die mense het gegil en geskreeu."
Hy sê dat hy nog nooit in sy lewe so 'n belewenis gehad het nie. "Ek het al in koerante gelees van ongelukke waar mense vasgevang is en waar mense dood is, maar ek was nog nooit in so 'n ongeluk nie, dit was baie erg."
Van die passasiers, sê hy, kon self by die stukkende voorruit uitklim, maar hulle moes bo-oor mense klouter wat onder die bus vasgekeer was. Hy skat dat die eerste ambulans, wat toevallig onderweg was na Oudtshoorn, sowat vyf minute na die ongeluk daar stilgehou het. Volgens hom was die reaksietyd van die nooddienste wat daarna gekom het baie vining.
"Dit het op my verjaarsdag gebeur, ek was baie gelukkig. Die oom wat langs my gesit en slaap het, het baie seergekry, gelukkig was ek wakker."
April was onderweg na Oudtsoorn om vir familie te kom kuier.
Die ongelukstoneel.
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'