"Vandag is 'n geskiedkundige dag," het die direkteur gemeenskapsdienste, Ronnie Lottering, verlede week met die bekendstelling van die voltydse brandweermanne en –vroue gesê.
"Hierdie is nog 'n bewys dat die Oudtshoorn-munisipaliteit besig is om vorentoe te beweeg. Ons is nou meer as gereed om lewens te red en eiendom te beskerm. Ons kom deur 'n moeilike tyd en is groot dank verskuldig aan die burgemeester en raadslede," het Lottering gesê.
Tot dusver is gebruik gemaak van werknemers van die munisipaliteit in ander poste en het dit ietwat langer geneem vir die brandweer om by 'n brand uit te kom.
Lottering sê die tydelike brandweermanne het nietemin uitstekende werk verrig, baie lewens gered en vure geblus.
Hy het lof toegeswaai aan die brandweermanne wat deeltyds by die brandweer betrokke was. "Ons het nou egter 'n volwaardige brandweer en beplan ook 'n satellietstasie op Dysselsdorp."
Sertifikate van waardering is tydens die spesiale geleentheid deur die burgemeester, Gordon April, aan die ses lede oorhandig en hulle namens die munisipaliteit en die inwoners van die dorp bedank. Hulle is Harold Le Kay, Christiaan Mc Gear, Colin Saayman, Sampie Piedt, Jan Hess en Frikkie van Staden.
Die hoof van beskermingsdienste, Murray-Wayne Konnie, het die tydelike brandweermanne geloof vir hul toewyding en dat hulle Oudtshoorn se naam hoog gehou het.
"Hulle het hul families met die gemeenskap gedeel, op die harde manier geleer en talle groot brande op die dorp geblus. Hulle het die brandweerstasie onder moeilike omstandighede stelselmatig help opgebou tot die luukse een van vandag. Ek glo dat die nuwe personeel steeds op hul kundigheid sal kan staatmaak."
Die voltydse brandweermanne en –vroue sal in skofte van 12 ure werk het die nuwe brandweerhoof, Johann Meintjies, gesê.
Die brandweer se alle ure nommer is 044 203 3110.

Oudtshoorn se 20 voltydse brandweermanne en –vroue saam met Murray-Wayne Konnie (bestuurder beskermingsdienste), Gordon April (burgemeester), Johann Meintjies (brandweerhoof) en Ronnie Lottering (direkteur gemeenskapsdienste). Foto: Garnett Wicomb