Oom Boetie, is Sondag net buite Oudtshoorn in sy motor aan 'n hartaanval dood.
Hy was van sy kleinniggie van Rose Valley op pad huis toe, toe hy vermoedelik die hartaanval gekry het en met sy motor oor 'n elektriese paal gery en in die bosse op 'n oop stuk veld oorkant die AGS kerk in Bridgton tot stilstand gekom het. Hy is op die toneel dood verklaar.
Volgens sy dogter, Rosie Gysman, het hy blykbaar Sondagoggend al gesê hy voel nie lekker nie en dat hy nie dink hy gaan dit tot 81 maak nie.
Steyn sal onthou word as die eerste taxi-eienaar op Oudtshoorn.
"My pa het eers by Derick Fish se vere-afdeling gewerk en het daarna 'n Ford bakkie gekoop om hout te verkoop. Hy wou 'n sukses van sy lewe maak. Vandaar het hy sy eerste taxi gekoop en sy besigheid (DD Steyn Taxi) het so gegroei dat hy later ses taxi's gehad het. Twee het in Oudtshoorn geloop en die res het tussen Oudtshoorn en die Kaap geloop. Hy wou aftree met sy Mercedes omdat hy 'n sagte plek vir die karre gehad het," sê Gysman.
Steyn het in 1998 die Pinkster Protestante Kerk en die pastorie laat bou en die kerk is in 1999 ingewy. Hy was ook die ere-ouderling van die kerk.
Steyn se vrou, Regina Steyn, is agt jaar gelede dood.
Hy laat sy twee dogters, Rosie Gysman en Johanna Marnewick en 10 kleinkinders en 11 agterkleinkinders agter.
Sy begrafnis begin Saterdag 09:00 by die huis in Fernstraat 27 en verskuif 09:30 na die Pinkster Protestante Kerk agter die plate. Die laaste diens word om 11:00 by die Independente Kerk gehou.

'n Kranslegging is gisteroggend op die plek gehou waar Boetie Steyn Sondag aan 'n hart-aanval in sy motor beswyk het.
ARTIKEL: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn | Klein-Karoo nuus'