Volgens mnr. Hans Piedt, wat in die middelste van die drie huise gewoon het, was niemand by hul huise toe die voorval gebeur het nie.
"Ek was by my ma-hulle onder in die straat toe iemand my roep en sê ons plek brand af. Ek het daarnatoe gehardloop, maar dit was net vlamme. Ons kon nie regtig iets doen nie, ons kon net kyk hoe onse huise brand," vertel hy.
Volgens Piedt is hulle ses mense wat in die hut gewoon het waarvan daar 'n agt maande oue baba en 'n 4-jarige seuntjies by is.
Me. Juanita Hufke, Piedt se bure op regterkant, sê sy en haar baba (drie maande oud) het in die agterste straat by haar suster gekuier toe sy die vlamme sien.
"Ek moes my ma, Emma, uit die huis uit help. Ek is net so dankbaar ek en die baba het nie gaan slaap die middag nie, anders was ons seker ook nie meer hier nie. Ons slaap elke middag daai tyd 'n bietjie," vertel sy.
Volgens Hufke is hulle vier mense wat in die huis gewoon het.
Die anderkantste bure is mnr. Klaas Piedt en sy vrou Catherine. Hulle was ook nie by die huis nie.