Boer Soek 'n Vrou, die werklikheidsreeks op kykNET waarin hubare boere hoop om 'n hennetjie te vind wat hul stellasie sal deel, staan reeds in sy sewende seisoen.
Vanaf 9 Oktober kon kykers saam met die aanbieder Nadia Beukes die soektog na liefde begin deel soos wat sy die briewe van Prins Albert, Lady Grey en tot in Sutherland afgelaai het.
Die vyf boere met die meeste briewe, het voortgegaan om 10 meisies te kies, waarvan drie uiteindelik na die plaas genooi is om daar te gaan kuier.
In 'n onderhoud het die Oudtshoorn Courant meer omtrent die twee boere uitgevind.
Eerstens wou ons by die boere weet hoekom hulle vir die program ingeskryf het.
Volgens Johan sê die naam van die reeks alles – hy soek 'n vrou. Iemand saam met wie hy kan oud raak en lief raak vir alles van haar en... slegs vir haar. "Ek wil vir ewig vir haar alle deure oopmaak en ons moet 'n paar wees, want sonder lekker koffie is beskuit maar droog!"
Albert word vanjaar 30 en dit het hom so effens paniekerig begin maak.
"Ek werk meeste naweke, so dit is vir my baie moeilik om iemand te ontmoet. En die feit dat ek op 'n afgeleë plek woon, help nie my saak nie."
Johan het na skool landboubestuur aan die Kaapse Tegnikon studeer.
Hy hou van lag en laat lag, is ernstig oor die ernstige dinge van die lewe, baie doelgerig, pligsgetrou, lojaal en hardwerkend. Hy's 'n omgee mens met 'n klein hartjie, maar kan volgens hom ook hardegat wees en sal baklei vir wat hy wil hê. Boerdery is sy lewe en passie en boonop is hy versot op jag.
Albert is 'n stiller man wat lief is vir die natuur en daarvan hou om aktief te wees.
Vir hom is dit belangrik om iemand te vind wat min of meer dieselfde belange as hy het. Hy het in die Suid-Kaap net buite Swellendam groot geword en die plaaslewe is in sy bloed.
Vir Johan was die ervaring voor die kameras veral aan die begin baie senutergend.
Hy het gevoel of hy reeds voor miljoene mense staan en sy naam met 'n stuk dryfhout slaan! Volgens hom raak 'n mens gelukkig al hoe meer gemaklik voor die kameras namate die proses verloop. Vir hom was die klankman se toestel die vreemdste ding, want dit hang oor jou kop.
Hulle het daarna verwys as die poedel. Albert was in die begin maar skrikkerig, totdat hy daaraan gewoond geraak het. Vir hom was dit erger om sy persoonlike gevoelens en emosies te deel, maar het verstaan dat dit deel was van die proses.
Tydens verlede week se episode het elke boer drie meisies gekies wat by hulle op die plaas sou kom kuier. Ons wou by Johan en Albert weet wat vir hulle uitgestaan het ten opsigte van die drie meisies wat hulle gekies het. Johan het na elke meisie gekyk en spesifieke kwaliteite gesien.
Volgens hom het Suandri voorgekom as 'n raakvatter en 'n sagte mens dog baie ferm en doelgerig. Lize-Mari het 'n sekere spontaniteit en opgewektheid aan haar, terwyl Helen as mens gevorm is en het 'n soort kalmte oor haar wat baie aansteeklik is. Boonop is sy baie mededeelsaam en gee graag.
Johan het gevoel dat die drie dames sou aanpas by hom en alles rondom hom.
Boer Albert sê hy het 'n goeie idee van wie hy in sy lewe wil hê. Anita, Hilde-Marie en Chantel gaan hom beter leer ken. Vir hom het hierdie drie dames gelyk na ordentlike en eerlike mense met 'n goeie humorsin vir wie hy graag beter wou leer ken. Hulle het belang gestel in wat hy doen en uitgevra. Dit het hom gehelp om sy besluit te neem.
Gisteraand kon kykers weer voor die kassie inskuif om te sien hoe die kuier sover verloop het.
Nog 'n boorling van Oudtshoorn wat wel liefde tydens 'n vorige reeks van Boer Soek 'n Vrou gevind het, is Judi Roux (née Koegelenberg). Sy het in die derde reeks vir boer Erik Roux 'n brief geskryf. Haar brief het sy oog gevang… en soos hulle sê die res is geskiedenis. Op 24 September 2011 is Erik en Judi in Oudtshoorn se Moederkerk getroud. En moontlik het ons binne die volgende paar maande ook goeie nuus van boer Johan en Albert.
Klik hier vir 'n vorige nuusflits.
Boer Albert
ARTIKEL: CARINA FOURIE
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'