Dit is die tweede ongeluk binne 18 uur rondom Oudtshoorn. Die ander ongeluk was laat Saterdagmiddag toe 'n Kia Picanto met twee jong vroue op die honde-eenheidpad gerol het.
Die twee mans wat dood is, is as Darryl Tobias en Nico Plaaitjies geïdentifiseer. Darryl is opslag dood en Nico is Maandag in die hospitaal weens sy beserings dood.
Volgens Chantal Tobias, Darryl se vrou, is sy nie presies seker watter beserings hy gehad het of wat in die ongeluk gebeur het nie.
"Dit het ons maar baie skielik gevang. Hy was 'n langafstand vragmotorbestuurder en het 'n dogtertjie van ses jaar oud," het sy vertel.
Sy kon nog nie begrafnisreëlings tref nie omdat sy nog op die verslag van die nadoodse ondersoek wag.
Sarah Booysen, Nico se tannie, sê Nico het by haar in die huis gewoon en was die broodwinner. Hy het ook twee dogtertjies gehad.
"Die hartseer is groot en hy was 'n baie sagte en rustige mens," vertel sy.
Volgens haar is die begrafnis 10:00 vanuit die PPK in Ladismith.
Kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, sê hulle ondersoek 'n klag van strafbare manslag.
"Die bestuurder van die Chevrolet-bakkie het beheer oor die voertuig verloor en die voertuig het gerol. Die 37-jarige bestuurder is op die toneel oorlede. Drie passasiers is erg beseer en per ambulans na die hospitaal geneem. Die 31-jarige, Nico Plaatjies, is later in die hospitaal oorlede," het hy in 'n verklaring gesê.
Klik hier vir 'n vorige artikel.
Nooddienswerkers was vinnig op die toneel na 'n bakkie 15km buite Oudtshoorn op die Calitzdorp-pad gerol het. Foto's: Hannes Visser\

Wyle Nico Plaatjies. Foto verskaf

Wyle Daryl Tobias. Foto verskaf
ARTIKEL EN FOTO'S: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'