OUDTSHOORN NUUS - ‘n Aansoek van Marco Zeelie (31) om teen sy skuldigbevinding en vonnis van 15 jaar te appelleer, is Vrydag in die streekhof van die hand gewys.
Hy is tot 15 jaar tronkstraf gevonnis vir verkragting, twee klagtes van seksuele aanranding en dwang van ‘n kind om seksuele misdrywe waar te neem.
Zeelie voer in sy aansoek aan dat die landdros fouteer het met sy skuldigbevinding en vonnis en dat ‘n ander hof moontlik tot ‘n ander bevinding kan kom en ‘n aansoek tot die Wes-Kaapse hooggeregshof wil bring
Streeklanddros Daniël Boks het die aansoek van die hand gewys omdat hy van mening is dat ‘n ander hof nie tot ‘n ander beslissing sal kom nie.
Volgens die landdros is Zeelie aan ernstige misdrywe skuldig bevind. Hy het die getuienis voor die hof in geheel oorweeg.
Sy optrede kon 'n vonnis van lewenslange gevangenisstraf beteken het, maar die hof het bevind dat dit ‘n te swaar vonnis sal wees en daarvan afgewyk.
Die enigste gepaste vonnis is egter lang direkte gevangenisstraf. Die hof het die erns van die misdrywe en die belang van die gemeenskap in ag geneem en daarom is die vonnisse nie skokkend nie.
Die klaer was minderjarig en die manier waarop die dade gepleeg is skandalig, het die landdros gesê.
Zeelie het die aanvanklike seksdade in 2008 toe die klaagster agt jaar oud was, gepleeg en weer in 2011 en 2012 toe sy 11 en 12 jaar oud was.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'