Die bakkie was vanaf die grotte se kant op pad na Oudtshoorn toe dit links van die pad afgeloop en daarna oor die pad gerol het.
Nooddienswerkers was binne minute op die toneel. Volgens hulle het beseerdes in die pad en op die skouer van die pad gelê. Die kappie van die bakkie is afgeruk en die voertuig het op sy wiele gestaan met die aankoms van noodvoertuie op die toneel.
Verskeie ambulanse het beseerdes na die Oudtshoorn-hospitaal vervoer.
Vier persone met ligte beserings is met die Healthnet-bussie hospitaal toe geneem.
Die Oudtshoorn Courant was minute na die ongeluk op die toneel. Binne minute het familie en vriende van die slagoffers te voet by die ongelukstoneel opgedaag en geskok toegekyk terwyl die beseerdes behandel is.
Drie van die passasiers wat lig beseer is wou nie kommentaar lewer oor die moontlike oorsaak van die ongeluk nie. 'n Vierde man, met skaafwonde aan sy gesig en skouers het gesê hy kan glad nie onthou wat gebeur het nie.
Volgens Nadia Ferreira, woordvoerder van die Wes-Kaapse department van gesondheid, is 11 pasiënte Saterdagoggend by die Oudtshoorn-hospitaal se noodeenheid gesien.
Sy sê dat vier van die pasiënte in die hospitaal opgeneem is waarvan een met ernstige beserings na die George-hospitaal oorgeplaas is. Die ander pasiënte is vir ligte en geringe beserings behandel.
Volgens sers. Gretchen Michaels het die 31-jarige bestuurder na bewering beheer oor die voertuig verloor en word 'n klag van roekelose en nalatige bestuur ondersoek.
Klik hier vir 'n verwante artikel.
Die bakkie het oor die pad geskuif en aan die ooraknt teen 'n wal tot stilstand gekom.
ARTIKEL EN FOTO'S: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'