OUDTSHOORN NUUS - Die land se oudste Afrikaanse kunstefees en die jongste reisende kunstefees deel vanjaar 'n geleentheid.
Met die 25ste bestaansjaar van die KKNK spring die land se beste akteurs en musici wat aan OPTOG! deelneem, in die kombi en kom Oudtshoorn toe.
OPTOG! is die grootste konserttoer deur plaaslike sangers, akteurs en musikante wat tot op hede in Suid-Afrika aangebied is.
Elke OPTOG!-konsert is 'n unieke ervaring en 'n viering van ons land se talent, van kuns, kultuur en sommer van alles wat mooi is. Alles onder een vaandel. Meer as 40 dorpe en stede regoor die land en Namibië word besoek en meer as 20 kunstenaars en teaterproduksies is deel van hierdie feestelikheid op wiele.
Nataniël het met die naam vorendag gekom en is die gesig van die projek, maar die konsep is ontwikkel deur die bekende pianis, musiekregisseur en vervaardiger, Matthys Maree.
Maree, ‘n boorling van Oudtshoorn, deel sy opwinding oor die nuwe projek:
“Oudtshoorn moes eenvoudig op ons roete wees! Ek het daar grootgeword en skoolgegaan. Ek het daar leer klavierspeel. En almal van ons wat by OPTOG! betrokke is, het oor die laaste 25 jaar vir en saam met die KKNK daar konsert gehou. En ons is bevoorreg om in die KKNK se spesiale feesjaar drie produksies Oudtshoorn toe te bring buite die gewone feestydperk… sodoende rek ons die fees waarvoor ons almal so lief is 'n bietjie langer uit en maak ons hopelik 'n bydrae tot KKNK25 se produksie-aanbod!”
Hugo Theart, artistieke direkteur van Kunste Onbeperk sê hy is opgewonde oor die samewerking met OPTOG!: “Ons is opgewonde om saam met OPTOG! ‘n kwarteeu van kunste in die Klein-Karoo te vier. Alhoewel KKNK25 plaasvind van 21 tot 27 Maart, is dit wonderlik om sommer die hele jaar fees te vier en die beste kunstenaars in Oudtshoorn te verwelkom vir elke seisoen. Dit is 'n besonderse voorreg om sommer reeds in Februarie die feesvieringe met Nataniël af te skop.”
Die volgende konserte verskyn op beide OPTOG! en KKNK25 se program:
- • 28 Februarie om 19:30 - Nataniël: Four Loud People: Oudtshoorn-burgersentrum
- • 24 Augustus om 19:30 - Stef Bos: Jou land is my land: Oudtshoorn-burgersentrum
- • 4 September om 18:30 - Laurika Rauch: Surval Boutique Olive Estate
Kaartjies vir Nataniël is reeds beskikbaar by itickets.co.za, terwyl kaartjies vir Stef Bos en Laurika Rauch later vandeesweek ook daar beskikbaar sal wees. Besoek gerus ook optog.co.za vir meer inligting.
Kom dus per trein of per trok, in 'n kombi of met 'n donkiekar…die Klein-Karoo pronk sy vere en jy sit in die voorste ry!
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'