OUDTSHOORN NUUS - Opposisie partye in die Oudtshoorn-munisipale raad het sterk ten velde getrek teen die goedkeuring van die 2018/19-begroting.
Met 21 van die 25 raadslede teenwoordig tydens Donderdag 31 Mei se spesiale raadsvergadering, is die begroting met 12 teenoor agt stemme aanvaar. Die ANC, Sarco en Icosa het daarteen gestem, terwyl al 12 stemme ten gunste van die begroting, DA stemme was.
Die EFF was nie teenwoordig nie.
Vlancio Donson (Icosa) het namens die opposisie aangevoer dat die beleidsdokumente nie by die begroting aangeheg is nie. Hy het ook die kworum bevraagteken. Volgens Donson, Gavin Juthe (Sarco) en die ANC-raadslede kon die begroting nie deur die 12 DA-raadslede ingestem word nie. Donson het aangevoer dat met 'n begroting se goedkeuring moet een meer as die helfte van 'n volle raad ten gunste van die begroting stem.
Ntobeko Mangqwengqwe, munisipale woordvoerder, het namens die munisipale raad gesê; "Vir die oorweging en die goedkeuring van enige besluit van die raad, insluitend die begroting is dit nodig dat daar ‘n kworum moet wees van die aantal raadslede in die raad teenwoordig nie. In terme van Artikel 16 van die raad se ordereëls is ’n meerderheid van stemme nodig vir die goedkeuring van onder andere die begroting."
Ten opsigte van die beleidsdokumente het Mangqwengqwe gesê: "Die beleidsdokumente wat deel vorm van die begroting was gedurende Maart 2018 met die konsepbegrotingsdokumente aan alle raadslede gestuur. ‘n Werksessie is gehou om wysigings aan te bring in aanloop tot die finale goedkeuring van die begroting. Artikel 24 van die MFMA saamgelees met 17(3)(a)(1) van die MFMA dui aan watter dokumente aangeheg moet word en die beleidsdokumente word nie vereis nie."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'