Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-hospitaal en -kliniek is deel van 'n groep van agt mediese fasiliteite wat deur die nasionale departement van gesondheid, in samewerking met die provinsiale departement van gesondheid, geïdentifiseer is wat opgraderings en opknappings benodig.
Volgens Nadia Ferreira, woordvoerder van die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement in die Tuinroete, word daar beplan om die kontrakteur op 31 Mei op die perseel te ontmoet vir die terreinoorhandigingsproses om effektiewe voorbereiding en beplanning te verseker.
FOTOGALERY: Opknappings aan hospitaal en kliniek
"Dit beteken nie dat opknappings op 31 Mei sal begin nie. Konstruksie sal ongeveer 300 dae neem om te voltooi," het sy die week in 'n verklaring gesê.
Sy het nie 'n amptelike datum verskaf vir wanneer die projek gaan begin nie. Volgens haar sal daar opknappings en opgraderings aan beide geboue wees.
"Daar sal ondermeer vloere, deure en vensters vervang word en daar sal aan die geboue geverf word en mure deurgebreek word. Daar word ook beplan om store, gange, kaste en rakke by te voeg. Daar gaan aan die badkamers gewerk word en ook na die elektriese en ventilasie behoeftes van die geboue gekyk word."
Ferreira het gesê ten spyte van die veranderinge en opknappings gaan geen nuwe dienste by die hospitaal of die kliniek gevoeg word nie.
"Dienste sal moontlik tydelik net rond-geskuif word soos die werk aangaan, maar die departement sal verseker dat dienste ononderbroke is. Al die nodige voorsorgmaatreëls sal getref word om dienslewering te verseker."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’