OUDTSHOORN NUUS - Ongeveer 170 misdadigers is tussen 23 en 26 Mei gearresteer na die polisie 'n suksesvolle interprovinsiale operasie tussen die Wes-, Oos- en Noord-Kaap gehad het.
Volgens kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die spanne wat saamgewerk het die polisie, provinsiale- en munisipale verkeersdepartemente, SARS, SANParke, binnelandse sake en nog ander departemente ingesluit.
Die doel van die operasie was om onwettige vuurwapens, nagemaakte goedere, dwelms, vee, fauna en flora en gesteelde goedere te konfiskeer.
Vyftig van die beweerde misdadigers was persone wat deur die gereg gesoek word en 17 is vir dwelmverwante misdrywe in hegtenis geneem. In totaal is daar 6 340 deursoekings gedoen.
Die lede het meer as 4 kg dagga en 79,17g tik met 'n straatwaarde van R19 792,50 gevind. Daar is ook 141 926 Mandrax-tablette ter waarde van R8,5 miljoen gevind en 28 800 gr khat ter waarde van R60 000. DIe polisie laai een van die verdagtes.
Die lede het vier skootrekenaars gevind en 'n buitelander is in hegtenis geneem. R232 000 se verkeersboetes is ook uitgeskryf.
Lede van die Sentraal-Karoo se honde-eenheid het op 24 Mei 'n padblokkade naby Beaufort-Wes gehou.
DIe afleweringsvragmotor waarin die Mandrax gevind is.
"'n Bus wat na Malawi op pad was is afgetrek en deursoek. Elektriese toerusting, waaronder twee Apple MacBooks en HP- en Asus-skootrekenaars, sowel as selfone is gevind. 'n 24-jarige Malawiër is in hegtenis geneem.
"Dié lede het ook later die dag die khat gevind, maar niemand kon in verband met die dwelms in hegtenis geneem word nie."
Verlede Woensdag was lede op die N9 tussen Uniondale en Willowmore gestasioneer. 'n Vragmotor wat na Kaapstad onderweg was is afgetrek.
"Tydens die ondersoek is daar 'n versteekte kompartement in die dak van die vragmotor gevind en die polisie het 141 400 Mandrax-tablette daarin gekry. Die waarde word op R8,48 miljoen beraam. 'n 24-jarige man is in hegtenis geneem."
Die Mandrax-tablette wat gevind is.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'