OUDTSHOORN NUUS - Môreaand is die opening van die splinternuwe Oudtshoorn Kunstevriende by die Ostrich Emporium op die hoek van Langenhovenweg en Rademeyerstraat.
Volgens Annelize Vlok, een van die Kunstevriende, is dit die nuwe weergawe van die ou Musiekvereniging wat vroeër jare op Oudtshoorn was en deur Nic Barrow bestuur was.
"In ons dorp is daar 'n groot behoefte aan meer klassieke musiek. Ons wil bietjie lewe in die kunste van Oudtshoorn blaas. Ons fokus dus nie net op musiek nie, maar ook op digkuns, skilderkuns en die ander kunste wat tussen ons inwoners skuil," het sy verduidelik.
Volgens haar word belangstellendes na môre se openingsaand genooi.
"Dit is sommer net 'n bekendstelling waar mense meer kan uitvind oor wat presies beplan word. Paul Eilers gaan voorlesings doen en Marinda Bothma-Schutte, bekende operasangeres, gaan sing."
Annelize sê enigiemand is welkom om die geleentheid by te woon.
"Bring 'n piekniekmandjie en iets om te drink. Dit gaan heerlik wees. Ons soek ook mense wat 'n positiewe bydra kan lewer."
Vir meer inligting skakel Antoinette le Roux by 084 567 1030.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'