Advokaat Bruce Wessels en mnr. Mbyiseli Lolwana van die kantoor van die OB op George het lede van die publiek Dinsdag in Toekomsrus te woord gestaan en skriftelike klagtes ontvang.
Wessels het aan die groep van ongeveer 50 mense verduidelik dat die OB slegs betrokke raak in gevalle waar die publiek die slagoffers is van ongerymdhede binne enige regeringsorganisasie en nie sake aanhoor tussen privaat partye nie.
Op 'n vraag uit die gehoor of die OB sake sal ondersoek waar die munisipaliteit betrokke is by kontrakte wat nie wettig of volgens voorskrifte hanteer word nie het hy bevestigend geantwoord.
Die besoek van die OB volg op 'n memorandum wat vroeër vanjaar deur die vier burgerlike organisasies op Oudtshoorn aan advokaat Madonsela gestuur is.
In die memorandum vra die Oudtshoornse Belastingbetalersvereniging (ORPA), AfriForum, Rose Valley Komitee en die Oudtshoorn Burgerlike Beweging (OBB) vir Madonsela om dringend aandag te skenk aan die beweerde wanbestuur van die dorp wat sedert verlede jaar miljoene rande aan belastingbetalersgeld ingesluk het.
Wessels het Woensdag aan die Oudtshoorn Courant bevestig dat die OB elke klag deeglik gaan ondersoek. "Daar was verskeie mense van wie die klagtes min of meer ooreengestem het, maar as ek na al die klagtes kyk is daar ongeveer 15 afsonderlike sake waaraan ons aandag sal gee."
Hy het bevestig dat al die klagtes met die munisipaliteit verband hou en het beklemtoon dat elke saak as belangrik beskou word. "Ons het elke klaer se besonderhede en ons sal persoonlik met elkeen skakel en hulle op hoogte hou van die verloop van die ondersoeke.
Van die klagtes wat gelê is hou verband met munisipale kontrakte, dienslewering, verkeersafdeling, parkeermeters, die vliegskool, die werksaamhede van die saagmeule by die stasie, aanstellings, nepotisme en beweerde onreëlmatighede by 'n versorgingsoord.
Raadslid, Pierre Nel het namens die DA /Cope alliansie 'n lywige memorandum ingehandig waarin verwys word na onreëlmatighede in die bestuur van die munisipaliteit en die wyse waarop die raad verhinder word om te funksioneer.
Op hul beurt het ORPA en die OBB hul tevredenheid uitgespreek met die besoek van die OB en het daarop gewys dat die OB se besoek wat vroeër beëindig is as wat beplan is sommige inwoners die kans om hul saak te stel ontsê het. Ten minste een lid van die publiek het aangedui dat hy 'n skriftelik beswaar aan die OB se kantoor in Kaapstad gerig het omdat die publiek nie, soos vooraf gereël, tot 16:00 geleentheid gehad het om klagtes in te dien nie. Wessels het egter die onderneming gegee dat 'n opvolgbesoek gereël sal word waartydens nog klagtes aangehoor sal word.

Verskeie belangegroepe het Dinsdag altesame 15 klagtes wat verband hou met munisipale dienslewering en kontrakte aan die openbare beskermer oorhandig. Inlas: Advokaat Bruce Wessels en mnr. Mbyiseli Lolwana van die openbare beskermer het Dinsdag tussen 09:00 en 14:00 klagtes van die publiek aangeteken.
ARTIKEL EN FOTO'S: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR