OUDTSHOORN NUUS - Die DA se politieke hoof van Oudtshoorn, Tertuis Simmers, het vanmiddag gesê dat daar geen gronde is vir gerugte dat vyf raadslede van die DA na die ANC toe sal oorloop nie.
Gerugte het op sosiale media begin rondvlieg nadat daar op die Facebookblad van Pierre-Andre Nel ‘n plasing gemaak is met die name van die burgemeester en nog twee DA raadslede wat hulle glo by die ANC gaan skaar.
Die Oudtshoorn Courant het Sondagaand die name van ses DA raadslede ontvang wat glo na die ANC wou oorloop.
Die burgemeester, Colan Sylvester, het vanoggend telefonies gesê dit is onsin.
Hy het daarop gewys dat hy as proporsionele lid eenvoudig deur die DA vervang kan word en dus geen waarde tot die ANC toevoeg nie.
Simmers het gesê die DA is glad nie bewus van enige raadslede wat wil bedank nie. Hy het ook gesê die indruk wat op Faceboekblaaie geskep word dat DA raadslede wat by die ANC aansluit raadslede bly, is verkeerd. Sodra ‘n raadslid bedank is hy nie meer ‘n raadslid nie.
Daar moet ‘n tussenverkiesing in sy wyk gehou word indien hy ‘n verkose raadslid was.
Die name wat aan die Oudtshoorn Courant gegee is, is almal wyksraadslede met die uitsondering van die burgemeester.
Sou hy besluit om die DA te verlaat word ‘n ander raadslid eenvoudig as burgmeester aangewys.
Die Oudtshoorn Courant het ook beweringe ontvang dat ten minste een DA raadslid wel verkeie vergaderings met die ANC gehad het, maar dit kon tot dusver glad nie bevestig word nie
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'