Britz, 'n sakeman van die omge-wing, se veelsydige loopbaan het hom in die 1980’s na die verste uithoeke van Afrika geneem en soos hy sê: "Soms met 'n Suid-Afrikaanse paspoort, soms sonder een...".
'n Afstammeling van Petrus Johannes Meiring (oupa aan sy ma se kant) na wie Meiringspoort vernoem is, is Britz in Roodepoort gebore waar hy, nadat hy gematrikuleer het, aangesluit het by die Johannesburge Stadsraad as junior kantoorassistent. Sy pligte het hoofsaaklik die afstof van lêers behels en sy salaris was R58 per maand voordat sy matriek kwa-lifikasie geverifieer is en dit opgeskuif is na R60 per maand. Hy het buitemuurs studeer en BA Honneurs in Bedryfsielkunde by Wits in 1965 behaal. Na 20 jaar by die stadsraad het hy gevorder tot direkteur van behuising.
Hy en sy vrou Bets het hulle in 1991 in De Rust gevestig. "Ek is nie 'n sogenaamde inkommer nie, maar 'n terugkommer," sê hy. Sy vader het hom destyds gewaarsku teen dié klein dorpie wat gelyk het of dit 'n spookdorp sou word, min wetende dat huise hier in die toekoms bykans onbekombaar sou word en dat dit as Dorp van die Jaar in 2011 gekies sou word.
Britz was van 1996 tot 1997 burgemeester van De Rust en is tans Hoof Uitvoerende Beampte van Phezukomkhono Opleidingsdienste op Oudtshoorn.
Gassprekers was Dirk Steyn en Albert Schoeman wat albei pittige stories van Britz se verlede vertel het. "Aubrey het 'n reusagtige algemene kennis," het Steyn gesê, "en daar is bitter min minse wat hom iets van sport kan vertel. Een van sy baie deugde is dat hy, in al die jare wat ek hom ken, nog nooit 'n slegte woord oor iemand teenoor my geopper het nie."
Britz was 'n kranige agsteman wat Suid-Transvaal Skole, Transvaal Skole, Transvaal onder negentien en Tranvaal Sub-Unie verteenwoor-dig het. Hy was ook kaptein van die destydse gedugte Roodepoort Rugbyklub vir drie jaar. Hy het groot bofbal vir Crown Mines gespeel, maar toe agtergekom dis heelwat meer veeleisend op sy ligaam as rugby - sy natuurlike sporttalent na tafeltennis verskuif en liga gespeel in dié dissipline.
Britz het later self aan die woord gekom en almal laat skater met sy kwinkslae voordat hy effe nostalgies geword het. "My 55ste verjaarsdag, vyftien jaar gelede het ons ook so lekker gevier by Die Gat. Daar was destyds mense teenwoor-dig wat vanaand weer hier is. Ek nooi julle nou almal hier vanaand om weer te kom saam kuier op my tagtigste verjaarsdag."
Na aanleiding van die onderskeie toesprake het gaste eers opgevlam oor Britz se verlede en toe ingeklim in die heerlikste kos en lekkernye voordat Aubrey en Bets die dansbaan geopen het.

Aubrey Britz deel ‘n wysheid met Niekie Eksteen.
ARTIKEL EN FOTO'S: LEON NELL