OUDTSHOORN NUUS - Johnny Arries (66) is 'n bekende inwoner in Petunialaan, maar wat hom so besonders maak is dat hy dit op homself geneem het om op 'n gereelde basis die straat, sonder vergoeding, van die hoek tot in die duik skoon te maak.
"Mens moet mos voor jou eie huis skoonmaak, en ek het besluit om sommer voor ander mense se huise ook te vee," vertel Arries.
Volgens hom het hy ongeveer drie jaar gelede met die projek begin.
"Ek het die munisipaliteit gaan vra of hulle vir my gereedskap kan gee sodat ek die straat kan skoon hou. Ek het dit altyd met my eie gereedskap gedoen, maar my oorlede vrou het nie daarvan gehou dat ek ons huisbesem so stomp moet vee nie."
Volgens hom is dit vir hom lekker.
"Ek wil mos trots wees op waar ek woon. Ek maak by die container ook skoon."
Arries sê hy is trots op die feit dat hy nie mense vra om hom te help nie.
"Die bure het so met die tyd saam begin vee. Ek werk die mense skaam. Ek vra nie vir hulp nie. Hulle sien self hoe hard ek werk en dan kom werk hulle saam omdat hulle skaamkry dat ek nog self die straat vee," skerts hy.
Arries sê hy hoop ander mense in Oudtshoorn sien raak wat hy doen en doen dit ook.
"Dit kos niks om net voor jou eie deur te vee nie. So kan ons ons buurte netjies en skoon hou."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'