OUDTSHOORN NUUS - "Ek het nog baie moed, maar nie meer die spoed."
So sê Ampie Lewis, die langdienende werker by die Attaqua-honde-eenheid in Oudtshoorn, wat aan die einde van die maand, na 35 jaar as algemene werker, ampelik aftree.
Oom Ampie, soos hy geliefd onder beamptes by die honde-eenheid bekend is, was een van die eerste persone wat by die honde-eenheid begin werk het toe die eenheid in Oudtshoorn gestig is.
"Ek het in die 35 jaar onder drie bevelvoerders gewerk. Die eerste was kaptein Nico Geldenhuys. Ek het eers op plase in die omgewing gewerk en toe doen ek aansoek toe hulle die honde-eenheid hier oopmaak en hy het my aangestel."
Volgens Oom Ampie was die honde-eenheid se kantore aanvanklik by die dorp se polisiestasie in Baron van Reedestraat en het die honde by die Bridgton-polisiestasie gestaan.
Luitenant kolonel Retha Louw, nuwe bevelvoerder van die honde-eenheid sê sy weet nie wat hulle by die eenheid sonder hom gaan doen nie.
"Ons gee nie vir Oom Ampie opdragte nie. Hy weet wanneer die kantore skoongemaak word en wanneer die gras gesny moet word. Hy kom in en doen sy werk met ongelooflike passie en volharding. Hy weet waar als is en ken elke hoekie en draadjie. Hy sal gemis word."
Oom Ampie sê hy sal sekerlik van tyd tot tyd nog 'n oog by die eenheid kom gooi om seker te maak sy opvolger is net so goed soos hy.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'