OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-munisipaliteit het verlede Donderdag tydens 'n spesiale raadsvergadering eenparig besluit om sewe gesinne wat onwettige strukture op 'n oop stuk grond op Dysselsdorp opgerig het, toe te laat om daar te bly totdat fondse bekom is vir die bou van formele huise.
Die besluit volg op 'n aanbeveling en pleidooi van die waarnemende direkteur van menslike nedersettings en strategiese dienste, Shaheem Sims.
Sims vra in haar aanbeveling dat die mense wat strukture opgerig het op die perseel bly met die minimum dienste wat voorsien is, maar dat die eienaars van onvoltooide strukture versoek word om dit onmiddellik te verwyder en iewers te stoor.
Sy versoek ook dat munisipale wetstoepassers voortgaan met die monitering en verslaggewing en dat die munisipaliteit 'n interdik bekom om verdere toestroming tot die perseel te verhoed. Volgens haar is daar nie onmiddellike kostes vir die munisipaliteit nie.
Die raad het ook haar aanbeveling dat die menslike nedersettingsdepartement van die munisipaliteit by die provinsiale regering aaansoek doen vir nood-behuisingsbystand en die munisipaliteit "binne drie tot ses maande" iets daadwerkliks omtrent die kwessie doen.
Volgens rdl. Klasie Windvogel (ANC) is die behuisingswaglys op Dysselsdorp tans meer as 2 500.
"Daar is talle inwoners wat finansieel in staat is om hul eie huise te bou maar erwe is nie beskikbaar nie," het Windvogel gesê. Volgens hom is daar ook talle huisgesinne wat wettig van plase afgesit is en tans swerf.
"Daar is 25 jaar gelede laas huise op Dysselsdorp gebou."
Sims het op 'n vraag van die burgemeester, Colan Sylvester, gesê dat daar ook na die behuisingsnood op Oudtshoorn gekyk sal moet word. Hy het gemeld dat moontlik gekyk word na grond naas die Oudtshoorn-gholfbaan. Volgens Sylvester is daar meer as 12 000 name op die waglys in Oudtshoorn.
Raadslid Henry Tyatya (ANC), het gesê hy verskil nie van Sims se aanbeveling nie, maar versoek dat die raad toesien dat 18-jariges nie toegelaat moet word om op oop grond te kom plak nie.
Onderburgemeester Noluthando Mwati, het voorgestel dat die aanbevelings aanvaar word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'