OUDTSHOORN NUUS - Die aantal advertensieborde wat op die pad tussen Oudtshoorn en George by die T-aansluiting opgerig was, is hierdie week in opdrag van die Wes-Kaapse departement van vervoer verwyder.
Die borde is gereeld op sosiale media bespreek waar mense hulle teenkanting teen die ontsiering van die omgewing uitgespreek het. Volgens kommentare was die borde vir sommige motoriste 'n ergernis terwyl ander weer gevoel het daar word onnodig gekla.
Alhoewel 'n amptelike antwoord op 'n navraag aan Byron la Hoe, woordvoerder van die betrokke department, nog nie ontvang is nie, blyk dit dat die borde na gesprekvoering met die grondeienaar verwyder is. Volgens 'n persoon wat by die verwydering betrokke was, is alle advertensieborde langs nasionale paaie onwettig, maar word daar nie summier borde verwyder nie.
"In hierdie geval het die aantal borde die afgelope tyd egter so toegeneem dat ons moes ingryp."
Volgens die persoon het die grondeienaar 'n ooreenkoms met adverteerders gehad dat hulle borde mag oprig, maar dat dit verwyder sal word sodra klagtes ontvang word.
Teen Dinsdag was die meeste advertensieborde reeds verwyder.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'