OUDTSHOORN NUUS - 'n Trotse dag vir Oudtshoorn en die eerste stap om voornemende jong entrepreneurs in die regte rigting te help.
So het die uitvoerende burgemeester van Oudtshoorn, Colan Sylvester, Maandag met die amptelike loodsing van die Absa Onderneming Ontwikkelingsprogram by die Oudtshoorn Jeugkafee gesê.
Sylvester, het sy dank teenoor Absa uitgespreek vir die finansiering van die program en die aanbieding van werksessies vir die jongmense, huidige entrepreneurs asook 'n groep volwassenes wat graag ook hul eie besighede wil begin.
Volgens die burgemeester staan Oudtshoorn se werkloosheidsyfer tans op meer as 25%.
Dit is bykans 30 000 van die dorp se 97 000 inwoners.
Voorts is dit kommerwekkend dat meer as 50% van inwoners tans afhanklik is van een of ander staatstoelae en kan entrepreneurs 'n bydrae tot werkskepping lewer.
Volgens Mzi Baleni van Absa is die eerste doelwit van die program om vir ten minste tien entrepreneurs 'n stalletjie by vanjaar se KKNK te kry.
Absa is reeds vir langer as 24 jaar 'n trotse vennoot van die kunstefees.
Sylvester sê die groot uitdaging op die munisipaliteit se skouers is voorspoed vir al die dorp se inwoners.
Hy het beklemtoon dat volhoubaarheid van klein en medium sake-ondernemings die sleutel doelwit moet wees.
Volgens Elrico van Rooyen van die burgemeester se kantoor is dit nie maklik om 'n entrepreneur te wees nie.
Sy raad aan voornemende entrepreneurs is om nie aan mislukkings toe te gee nie en hard te werk.
ARTIKEL & FOTO: GARNETT WICOMB, OUDTSHOORN COURANT KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'