Update Video
KANNALAND NUUS EN VIDEO - Die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD) moes inderhaas inspring nadat ontstoke ouers tesame met leerders van Hoërskool Calitzdorp en Excelsior Primêr beide skole se hekke vroeg verlede Woensdagoggend gesluit en voor die skole betoog het.
Volgens een van die ouers is die rede vir die betoging oorvol klasse, te min onderwysers en te min handboeke.
Ouers is ook ongelukkig omdat daar blykbaar geen vakkeuses is vir leerders van Hoërskool Calitzdorp nie.
Niemand, nie eers die twee skoolhoofde, Jan Tities van Excelsior Primêr of Moses le Roux van Hoërskool Calitzdorp, is toegelaat om die onderskeie skoolterreine te betree nie.
Die ouers het dit toe duidelik gemaak dat hulle slegs die kringbestuurder van die streek, Tembikele Bango en streekdirekteur van die Wes-Kaapse onderwysdepartment (WKOD), Jewel Jonkers, daar wou hê om hulle toe te spreek.
Jonkers, asook Liezel Brits (WKOD-assistentdirekteur van bestuur en beheer), het wel later dieselfde dag opgedaag.
Hoërskool Calitzdorp se leerders en ouers is warm onder die kraag omdat die skool as 'n landbouskool geoormerk is wat landboubestuur en landboutegnologie aanbied. Nog 'n kwelpunt is dat fisiese wetenskappe nie meer deel van die skool se kurrikulum is nie.
"Waar het ons plase waar ons kinders die kennis moet toepas?" wou die ontevrede ouers van die WKOD weet.
Wat handboeke betref is daar ook uitgewys dat leerders boekpakette betaal om 'n handboek te verseker. Tans is gr. 12-leerders in twee klasse verdeel, maar al 51 leerders ontvang onderrig in die tale saam as een klas.
Een van die ouers, Colleen Murphy, het op 'n kalm wyse die WKOD-delegasie daarop gewys dat die ouers vandag kalm is en mooi praat, maar dat dit 'n WKOD probleem is en dus verwag die gemeenskap spoedige, dog werkbare oplossings.
Beide skole se leerders het die volgende dag weer teruggekeer na hul onderskeie skole nadat die WKOD beloof het om vandeesweek werkbare oplossings op die tafel te sit.
Excelsior Primêre skool
Wat Excelsior Primêr betref is die skool se ratio van onderwyser teenoor leerder in die klas 1:40. Daar is egter een gr. 6-klas met 68 leerders. Hierdie syfer is egter teweeggebring deur ouers wat hul kinders uit Gamka-Oos onttrek het en by Excelsior registreer het - dit het ook 'n tekort aan handboeke tot gevolg gehad. Excelsior het egter genoegsame banke om die onverwagte toename in leerders te akkommodeer.
Die WKOD het by navraag besluit dat dié skool een onderwyser gaan bykry om die
gr. 6-klas in twee te verdeel. Dan sal die tekort aan handboeke aangevul word met ekstra handboeke vanaf Gamka-Oos.
Hoërskool Calitzdorp
By Hoërskool Calitzdorp is die skool se ratio van onderwyser teenoor leerder in die klas ook 1:40 met een vak, landboutegnologie, wat 77 leerders in die klas het.
Die skool het besluit om nie fisiese wetenskappe aan te bied nie, aangesien die getalle (13) dit nie regverdig het nie. Die skool bied wel wiskunde aan.
Volgens die WKOD sal dié skool nou twee onderwysposte ontvang.
Dit sal meebring dat fisiese wetenskappe wel aangebied kan word en dat die oorvol landboutegnologie-klas verdeel kan word.
Die skool het ook onderneem om voortaan hul kommunikasie met die ouers te verbeter.
Vorige artikel: Ontevrede ouers en leerders betoog in Calitzdorp
VIDEO - Ontevrede ouers en leerders betoog (Video: Deon Meyer).
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'