CALITZDORP NUUS - 'n Aansoek van drie mans van Gamka-Wes, Calitzdorp, wat swaar vonnisse opgelê is vir huisbraak, roof met verswarende omstandighede, voertuigdiefstal en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, om teen hul vonnisse te appèlleer, is in die Oudtshoorn-streekhof van die hand gewys.
Streeklanddros LA Wilkens het die aansoek van Alex Stoffels, Elton Conradie en Jaco Adams op versoek van die staatsaanklaer, Willem Vister, van die hand gewys, omdat hy van mening is dat 'n ander hof nie tot 'n ander bevinding sal kom nie.
Stoffels is 30 jaar gevangenisstraf opgelê waarvan agt jaar samelopend met die vonnis vir roof met verswarende omstandighede uitgedien kan word, vir 'n effektiewe vonnis van 22 jaar.
Conradie en Adams is elk 26 jaar tronkstraf opgelê waarvan ses jaar samelopend met die vonnis vir roof uitgedien kan word wat 'n effektiewe vonnis van 20 jaar beteken.
Die drie mans het by die woning van 'n bejaarde egpaar ingebreek en hulle vir langer as twee ure gyselaar gehou en die huis geplunder.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Calitzdorp nuus'