OUDTSHOORN NUUS - Die bykans 90 tydelike munisipale werknemers wat as sekerheidsbeamptes aangestel is, is woedend omdat hulle moontlik hulle poste kwyt is.
‘n Groep van die werkers het vanoggend voor die munisipaliteit vergader en aangedring om met die munisipale bestuurder en amptenare te praat.
Volgens die groep is hulle gister in kennis gestel dat ‘n sekerheidsmaatskappy aangestel is om voortaan die sekerheid by verskeie munisipale terreine te hanteer.
Die groep is ongelukkig omdat daar glo verlede jaar vir hulle gesê is die munisipaliteit gaan vir die volgende vyf jaar nie ‘n sekerheidmaatskappy aanstel nie omdat dit té duur is.
Een van Oudtshoorn se raadslede, Eva Fortuin, het die ontstoke groep toegespreek en gevra dat hulle môreoggend weer munisipaliteit toe moet kom en dat sy sal sorg dat hulle dan te woord gestaan sal word.
Die groep is vreedsaam uiteen met die voorneme om môreoggend weer by die gebou te vergader.
Raadslid Eva Fortuin spreek die groep toe.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'