OUDTSHOORN NUUS - 'n Tragiese ongeluk in die vroeë ure van Saterdagoggend, 16 Desember, op die Proefplaaspad buite Oudtshoorn het die lewens van 'n jong ma en haar 2-jarige seuntjie geëis.
Die presiese omstandighede rondom die ongeluk waarin 26-jarige Loren-Lee Jansen en haar seuntjie Mushan oorlede is, is nog onbekend. Selfs die hartseer familie het geen idee hoe die ongeluk gebeur het nie, en daar is, volgens hulle, te veel onbeantwoorde vrae en bespiegelinge rondom die insident.
Loren-Lee Jansen (26). Foto verskaf
"Hoekom was sy en Mushan daardie tyd van die oggend op daardie pad? Hoe het hulle uit die dubbelkajuitbakkie geval, hoeveel mense was saam met haar in die bakkie, hoekom het nog niemand wat betrokke was met ons kom praat nie?" Dit is van die vrae wat die familie van Jansen beantwoord wil hê.
Die familie vertel hulle het al soveel verskillende stories van verskillende mense af oor die insident gehoor.
"Ons soek net antwoorde, ons wil hê dat die mense betrokke by die ongeluk net met ons moet kom praat en ons vertel wat gebeur het. Om al hierdie verskillende stories te hoor oor wie, wat, waar en wanneer ontstel ons net nog meer!"
Een van Jansen se drie susters, Mentolene Jansen, het vertel van die familie se ongelooflike hartseer.
"Sy was regtig 'n jolly, mense mens. Baie mense was vreeslik lief vir haar en sy was vriende met almal wat sy teëgekom het. Ons het al soveel boodskappe van bemoediging ontvang na hulle afsterwe. Sy was die jongste van ons vier susters," het sy vertel.
Volgens die bedroefde suster was die oorledene 'n enkelma wat hard gewerk het onder die gemeenskapwerkprogram, bekend as CWP, om vir Mushan te sorg.
"En Mushan was die vrolikste, vriendelikste kind. Hy was vir almal lief en het vinnig in mense se harte ingekruip. Hulle was net so lief vir hom. Hy het 'n sprankelende persoonlikheid gehad," het sy gesê.
Mushan Jansen (2). Foto verskaf
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, ondersoek Oudtshoorn-speurders die omstandighede rondom die ongeluk wat omstreeks 02:30 plaasgevind het.
"Inligting dui daarop dat die polisie na die ongeluk gestuur is waar hulle twee slagoffers buite die voertuig gevind het. Die kleuter en sy ma het veelvuldige beserings opgedoen en beide is op die toneel deur paramedici dood verklaar," het Spies gesê.
Spies het bygevoeg dat 'n dossier vir strafbare manslag oopgemaak is. Niemand is in hegtenis geneem nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’