OUDTSHOORN NUUS - Susan Ongansie, onderwysers van De Villiers Primêre Skool, se eerste kinderboek Kattekwaad is Saterdag in Oudtshoorn bekendgestel.
Dit is deur Lapa uitgegee en bedoel as voorleesboek in die grondslagfase, maar is ook geskik vir jong lesertjies.
“Ek loop al sedert 2012 met die idée vir die boekie,” sê Susan. “Ek het Jaco Jacobs van Lapa tydens ‘n skryfskool vir kinderboeke in Stellenbosch ontmoet en het toe met hom as my mentor daaraan begin werk. Ek het dit geskryf en herskryf en het die manuskrip twee, drie jaar na ons ontmoeting vir Jaco gestuur.
“Al veranderinge wat Lapa aangebring het was om die titel van Vyf Katjies na Kattekwaad te verander, en hulle het een van die katjies in die boekie se naam verander.”
Die vyf katjies in die boekie help om getal- en taalkundige begrippe, asook ruimtelike oriëntasie by jong kinders vas te lê.
“Ek het gesien kinders sukkel met getalbegrip en ruimtelike oriëntasie, en Kattekwaad het daaruit ontstaan. Kinders kan tel, maar sonder begrip. Hulle weet ook nie waar voor, agter, bo-op en onder beteken nie en dié boekie help om die begrippe vas te lê.”
Sy meen ‘n kinderboekskrywer moet dink wat sy vir die kind kan bied behalwe vermaak, en hoop om met die boekie nie net wiskundige begrippe vas te lê nie, maar hulle ook aan te moedig om te lees.
“Ons is omring met woorde wat ons hoor, lees, skryf en praat, en ek wil hê hulle moet die boekie geniet, maar ook groei.”
Sy skryf tans aan ‘n werkboekie wat op Kattekwaad baseer is.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'